ICSS 2018: bevorder inter- en multidissiplinêre studies oor sosiale wetenskappe

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het saam met die Sosiale Wetenskappe Navorsingsvereniging in Turkye onlangs die 9de internasionale konferensie oor sosiale wetenskappe aangebied.

Die konferensie het in George in die prentjiemooi Wes-Kaap plaasgevind en afgevaardigdes van regoor Suid-Afrika en die wêreld het dit bygewoon.

Die doel van die jaarlikse konferensie is om ’n wye gehoor van akademici, beleidmakers en praktisyns rondom duidelik-gedefinieerde onderwerpe bymekaar te bring, deelnemers te help om produktiewe debatte te voer, en wedersydse begrip te fasiliteer. ’n Bykomende doel van die konferensie is om ’n platform te verskaf vir akademici en professionele persone met interdissiplinêre/multidissiplinêre belange wat met sosiale wetenskappe verband hou om met lede binne en buite hulle eie bepaalde dissiplines skouers te skuur.

Meer as 140 referate is deur die loop van die driedagkonferensie gelewer. Hierdie referate – wat deur ’n ewekniebeoordeelde proses gegaan het – sal in die volgende e-vaktydskrifte gepubliseer word: die International Journal of Social Sciences and Humanity Studies, die International Journal of Economics and Finance Studies, die International Journal of Business and Management Studies, en die International Journal of eBusiness and eGovernment Studies.

Internasionale hoofsprekers

Dr Supa Pengpid en dr Terrence Kommal was onderskeidelik die twee hoofsprekers.

  • Dr Supa Pengpid

Dr Pengpid is sedert Junie 2013 ’n professor by die ASEAN Instituut vir Gesondheidsontwikkeling aan die Mahidol Universiteit in Thailand. Sy het ’n MSc en ’n PhD in Openbare Gesondheid van die Mahidol Universiteit en ’n MBA van Regenesys-besigheidskool in Suid-Afrika.

As kundige in openbare gesondheid, en spesifiek gesondheidsgedrag en openbare gesondheid, is dr Pengpid internasionaal bekend. Sy het reeds meer as 200 internasionale artikels en vyf boeke en hoofstukke in boeke gepubliseer, en was die studieleier vir meer as 50 meesters- en PhD-grade. Haar vernaamste navorsingsbelangstellings is gesondheidsgedragintervensies oor die voorkoming van chroniese siektes, die bestuur van vetsug, alkohol, MIV en TB, seksuele opvoeding, geslagsgebaseerde geweld, en navorsing oor gesondheidstelsels.

  • Dr Terrence Kommal

Dr Kommal is ’n gesoute strateeg, entrepreneur, spreker en mentor wat passievol daaroor is om mense te help om ware, standhoudende waarde by hulle besighede en hulle lewens te voeg. Hy is toegewy aan uitnemendheid in leer en ontwikkeling, asook aan mentorskap en konsultasie sodat elkeen van ons kampioene ten opsigte van etiese leierskap en sukses kan word.

Hy is tans die HUB van ’n vooraanstaande gesondheidsdienstegroep, dien as direkteur en nie-uitvoerende direkteur in ’n reeks sakeondernemings, en is ’n professionele spreker en skrywer. Hy is op 34-jarige ouderdom deur die Suid-Afrika Minister van Vervoer as ’n nie-uitvoerende direkteur op ’n R45 miljard-entiteitsdireksie aangestel. Hy is ook die Afrika-voorsitter van die gesondheidsorgnetwerk in die YPO, die voorste leierskaporganisasie van hoof uitvoerende beamptes in die wêreld.

 

 

 

Submitted on Fri, 09/21/2018 - 12:17