ICIL2019: beklemtoon die belangrikheid van inligtinggeletterdheid op alle gebiede van die lewe

>

“Ons bied reeds sedert die begin van die nuwe millennium inligtinggeletterdheidsmodules aan, maar dit bly ’n ope vraag of ons wel ’n impak maak en die vlak van inligtinggeletterdheid onder ons kliënte verbeter.”

Dit was die stelling wat gemaak is deur dr Mathew Moyo, hoofdirekteur vir biblioteek en inligtingsdienste aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en voorsitter van die eerste internasionale konferensie oor inligtinggeletterdheid (ICIL) wat vanaf 23 tot 26 September in Vanderbijlpark plaasgevind het.

Die konferensie, aangebied deur die NWU, is ’n susterkonferensie van die Europese konferensie oor inligtinggeletterdheid (ECIL), en ’n aantal organisasies – insluitende instellings vir hoër onderrig, wat die verantwoordelikheid het om te verseker dat daar toepaslike toegang tot en etiese en wettige gebruik van inligting is – het byeengekom en oor aspekte van die breër spektrum van inligtinggeletterdheid gesels. 

’n Samewerkende vennootskap

In sy verwelkoming van afgevaardigdes van regoor die wêreld by die konferensie het dr Moyo verduidelik dat die konferensie ’n internasionale samewerkende onderneming is waar die NWU se Biblioteek en Inligtingsdienste met die UNESCO Leerstoel oor multimodale leer en ooponderwyshulpbronne (OER) en die Eenheid vir Akademiese Geletterdheid in die Fakulteit Geesteswetenskappe hande vat.

Die gees van die vennootskap ondersteun voorts nie net die NWU se onderneming om bekend te staan as ’n internasionale universiteit wat vermaard is vir betrokke vakkundigheid nie, maar ook die belange van die UNESCO GaPMIL-inisiatief (Global Alliance for Partnerships on Media and Information Literacy-inisiatief). Hierdie inisiatief bevorder samewerking om te verseker dat die wêreld se burgers toegang tot media en inligtingsbebevoegdhede het.

’n Vol konferensieprogram

Die tema van die eerste internasionale konferensie was “Information Literacy in all spheres of life”, en afgevaardigdes het uit navorsers, biblioteek- en inligtingsdiensvakkundiges, mediaspesialiste, akademici en beleidmakers van regoor die wêreld bestaan.

’n Vol konferensieprogram het verskeie interaktiewe sessies ingesluit – van individuele referate en plakkate, PechaKucha (’n visuele storievertel-formaat), ’n doktorale forum (wat kort referate oor óf ’n kritiese literatuuroorsig, óf navorsingsvrae dek) en paneelbesprekings.  

Van die onderwerpe wat bespreek is, het ingesluit inligtinggeletterdheid in verskillende kontekste van die daaglikse lewe, aktiewe burgerskap, inligtinggeletterdheid as ’n emansiperende pedagogiek, indiensneembaarheid, opleiding in inligtinggeletterdheid, vervlegdeleer-multigeletterdheid, oop toegang en die kontekstualisering van inligtinggeletterdheid.

Die konferensie het voorts gespog met ’n internasionale groep hoofsprekers. Hulle was onder andere prof Serap Kurbanoglu (Turkye), prof Irina Zhilavskaya (Rusland), prof Trudi E Jacobson (VSA) en prof Thomas P Mackey (VSA). Die nasionale hoofsprekers was prof Bosire Onyancha (Unisa), prof Karin de Jager UK), prof Ina Fourie (UP) en prof Jako Olivier (NWU).

Die groep nasionale en internasionale hoofsprekers is van links prof Trudi E Jacobson, prof Thomas P Mackey, prof Serap Kurbanoglu, prof Jako Olivier, prof Irina Zhilavskaya en prof Ina Fourie.

Dr Mathew Moyo, die ICIL-konferensie se voorsitter.

Submitted on Wed, 10/02/2019 - 16:30