HySA hou baanbrekeruitstalling by Groen Waterstof-beraad

In ’n wêreld wat onder die effek van besoedeling en aardverwarming steier, is waterstof ’n lewensvatbare alternatief vir die opwekking van skoner, “groener” energie om nie net tot voordeel van die mens nie, maar ook van die omgewing, te wees.

Waterstof Suid-Afrika (HySA), ’n nasionale vlagskipprogram wat deur die Kabinet goedgekeur is, is aan die voorpunt van waterstoftegnologie in Suid-Afrika. Die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) huisves ’n HySA-bevoegdheidsentrum (Coc) van die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) by die Potchefstroomkampus van die universiteit en by die WNNR.

Die HySa Infrastruktuur CoC, met prof Dmitri Bessarabov DWI HySA se direkteur aan die hoof, het onlangs ’n baanbrekeruitstalling gehou om die Suid-Afrika Groen Waterstof-beraad (SAGHS) vir 2022 te ondersteun.

Unieke en baanbrekeruitstalling

Die span van die NWU en die WNNR het onder leiding van prof Bessarabov ’n unieke en eerste-in-sy-soort-uitstalling ontwikkel wat op plaaslike tegnologie en intellektuele eiendom fokus en wat deur die HySa Infrastruktuur CoC by die NWU ontwikkel is.

“Die uitstalling het komponente vir waterstofproduksie deur waterelektrolise vertoon wat plaaslik ontwikkel is, asook verwante stelsels en stoortegnologieë.” Prof Bessarabov sê die uitstalling het ook opvoedkundige interaktiewe tabelle ingesluit wat elemente van die Suid-Afrikaanse Waterstof-padkaart demonstreer.

’n Groot span van die personeel van die HySA Infrastruktuur CoC het by die uitstalling gewerk. Akademici en personeel van die NWU was prof Bessarabov, dr Phillimon Modisha, Samuel Mamathuntsha, Samuel Modise, dr Neels le Roux, dr Boitumelo Mogwase en Geoffrey Bantom. Prof Liezl van Dyk, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese aan die NWU, het ook die beraad as ’n afgevaardigde bygewoon.

Meer oor die Suid-Afrika Groen Waterstof-beraad

Infrastruktuur Suid-Afrika (ISA) het aan die einde van November die eerste Suid-Afrika Groen Waterstof-beraad (SAGHS) in Kaapstad aangebied.

“Die SAGHS het Suid-Afrika se aanbieding as ’n vroeë-stadium-, grootskaalse, laekoste-, wêreldklas-produksiekern van groen waterstof en totale waardeketting-beleggingsbestemming vertoon,” sê prof Bessarabov.

Suid-Afrika is een van die stigterslede van die Afrika Groen Waterstof-alliansie (Africa Green Hydrogen Alliance, AGHA), wat ten doel het om samewerking op die vasteland ten opsigte van groen waterstof te bevorder. Senior afvaardigings van die ander stigterslede van die AGHA – insluitende Egipte, Kenia, Mauritanië, Marokko en Namibië – is ook genooi om hulle unieke aanbieding by die SAGHS te lewer.

Die beraad het van 28 tot 30 November in Century City plaasgevind. Dit het ’n hooftoespraak van president Cyril Ramaphosa ingesluit. Hoëvlakpanele het tydens die gebeurtenis die uitdagings en geleenthede vir die implementering van groen tegnologieë bespreek.

Deel van die uitstalling bly in Kaapstad

’n Deel van die uitstalling sal in Kaapstad bly as deel van die Wêreld-wetenskapforum (WSF) 2022 wat van 6 tot 9 Desember plaasvind. Die WSF, wat deur die DWI aangebied word en waarvan die tema “Science for Social Justice” is, sal vir die eerste keer in Kaapstad plaasvind. Die HySA-uitstalling sal ná hierdie gebeurtenis na die NWU terugkeer.

...

 

Prof Dmitri Bessarabov, die DWI HySA-direkteur, saam met afgevaardigdes tydens die Suid-Afrika Groen Waterstof-beraad (SAGHS) 2022. Hulle is Dr Phil Mjwara, direkteur-generaal van die Departement van Wetenskap en Innovasie, Dr Thulani Dlamini, hoof-uitvoerende beampte by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) en Dr Somila Xosa van die Departement van Wetenskap en Innovasie.

...

Hooggeplaastes wat die Suid-Afrika Groen Waterstof-beraad bygewoon het, het me Barbara Creecy, die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, ingesluit. By haar is dr Boitumelo Mogwase, postdoktorale navorsingsgenoot by HySA Infrastruktuur en Somilia Xosa van die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI). Agter is Joyce Kabui van Green Hydrogen Organisation in Kenya en Dr Phillimon Modisha van HySA infrastruktuur.

...

Prof Dmitri Bessarabov, die DWI HySA-direkteur, en prof Liezl van Dyk, uitvoerende dekaan van die NWU se Fakulteit Ingenieurswese, tydens die beraad.

...

Dr Boitumelo Mogwase, postdoktorale navorsingsgenoot by HySA, Samuel Mamathuntsha, brandstofseltegnoloog, en dr Phillimon Modisha, navorsingsbestuurder van HySA se laboratorium vir vloeibare organiese waterstofdraers (LOHC) aan die NWU, was deel van die span wat die uitstalling bedryf het.

...

Dr Boitumelo Mogwase van HySA Infrastruktuur, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie dr Blade Nzimande en Samuel Modise van HySA by die Wêreld-wetenskapforum (WSF) 2022.

Submitted on Tue, 12/06/2022 - 12:49