HPI ʼn NWU-juweel

Jean Verster se entoesiasme is aansteeklik. Wêreldkampioene kan daarvan getuig – vra maar vir Caster Semenya en vele ander.

Dié voormalige en uitsonderlike middelafstandatleet was in die vroeë tagtigs een van SA-atletiek se groot troefkaarte. In daardie selfde tyd het hy sy bene in die VSA gaan rek, maar sedert ʼn anderhalf dekade gelede is hy aan die stuur van die Noordwes-Universiteit se Hoëprestasie-instituut (HPI) op die Potchefstroomkampus.

Sy prestasies as atleet en afrigter is legio, maar dit is ook in sy amp as bestuurder waar hy deurentyd diep spore trap. 

Die HPI is wêreldwyd bekend vir sy voortreflike geriewe, uitmuntende afrigters en spesialiste in verskeie sportsoorte, ʼn pragligging, sy aanloklike hoogte bo seespieël, en sy aansien as gevolg van kampioene wat al opgelewer is.

Meer as 1000 internasionale atlete besoek die HPI elke jaar, en selfs te midde van die Covid-19 pandemie het nagenoeg 700 internasionale atlete die HPI in 2020 besoek.

“Een van ons groot trekpleisters is dat ons (Suid-Afrika) se somer in die Europese winter val. Daar is natuurlik ander plekke in ons land soos Pretoria en Stellenbosch, en Afrika-lande soos Kenia en Etiopië wat ook sportgeriewe het, maar ons aanbod is uniek. Ons is baie hoër as Stellenbosch geleë, ons geriewe is, anders as die res, binne loopafstand van mekaar af, en besoekers geniet die studentekultuur van die stad,” sê Verster.

Daarbenewens geniet die NWU ook ʼn noue samewerkingsvennootskap met plaaslike amateursportfederasies. Daarom bly die HPI dié gekose sporttuiste vir menige plaaslike en internasionale unies en kodes. Meer as 40 lande se atlete het al hulle spiere by die HPI se geriewe kom span, wat die helfte van die Australiese Sokkerliga (AFI) se spanne, die Engelse krieketgraafskapspanne, en atlete van regoor Suid-Amerika, Europa en Asië insluit.

En, hoewel die Covid-19-pandemie steeds sy kloue in al wat sportsoort is inslaan, gaan die NWU teen die einde van 2021 ook die Hokkiewêreldbeker by die HPI, onder andere, in Potchefstroom huisves.      

 

Submitted on Fri, 04/23/2021 - 10:21