Hospitaal klop aan die NWU se deur vir beter sorg vir borskankerpasiënte

Navorsers by die Noordwes-Universiteit (NWU) werk gereeld in gemeenskappe om lewens te verbeter en oplossings vir dringende kwessies te vind. In die stryd teen borskanker het ’n hospitaal in Potchefstroom die kundigheid van die navorsingseenheid Medisyneverbruik in Suid-Afrika (MUSA) in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe ingeroep.

Prof Johanita Burger en dr Jesslee du Plessis, twee navorsers by MUSA, het deelgeneem aan ’n studie wat die Potchefstroomse Hospitaal uitgevoer het om die profiel van pasiënte met borskanker te verstaan en ’n strategie te skep om pasiëntesorg te verbeter en daardie pasiënte te ondersteun.

Prof Burger is ’n professor in farmasiepraktyk en dr Du Plessis is ’n mediese dokter en senior lektor in kliniese farmasie. Albei is kundiges in farmako-epidemiologiese studies en biostatistiek.

Die studie is geïnisieer deur die hospitaal se voormalige hoof van chirurgie, dr Baudouin Kakudji, wat intussen oorlede is, en dr Prince Mwila, wat in daardie tyd by die chirurgiedepartement gewerk het.

Hulle het saam twee navorsingsreferate oor die studie gepubliseer: “Epidemiological, clinical and diagnostic profile of breast cancer patients treated at Potchefstroom Regional Hospital, South Africa, 2012–2018: an open-cohort study” is in 2020 gepubliseer, en “Breast cancer molecular subtypes and receptor status among women at Potchefstroom Hospital: a cross-sectional study” in 2021.

Pasiënte wag te lank om vir behandeling aan te meld

“Borskanker is die algemeenste kanker by vroulike pasiënte wat by die hospitaal behandel word. Ten spyte van al die bewusmakingsprogramme en pogings om ’n vroeë diagnose en doeltreffende bestuur te bevorder, soek pasiënte steeds eers op ’n laat stadium mediese hulp, en talle volg nie op met die behandeling nie, en dit het ’n impak op hulle prognose,” sê prof Burger.

Die dokters wou die tipiese profiel van die hospitaal se kankerpasiënte vasstel. “Hulle doel was om beter behandeling en ondersteuning te verskaf, en dit kan net gedoen word deur die werklikhede van die pasiënte te verstaan.” 

Prof Burger sê die data het bevestig wat die dokters die hele tyd vermoed het. Pasiënte met borskanker wat in die hospitaal se omgewing woon, soek eers mediese hulp in die laat stadiums van die kanker. Daar is dus ’n behoefte om borskankerbewustheidsveldtogte te verbeter.

Die rol van NWU-kundiges

Prof Burger, dr Du Plessis en die dokters by die Potchefstroomse Streekshospitaal het as ’n span aan die studie gewerk. Die dokters by die hospitaal het die data ingesamel wat uit die hospitaalrekords van pasiënte met primêre verspreidende borskanker verkry is. Al die pasiënte is tussen 1 Januarie 2012 en 31 Desember 2018 by die hospitaal toegelaat of behandel.

Prof Burger het die data ontleed en dit saam met dr Du Plessis geïnterpreteer. Die span het toe hulle data gepubliseer in artikels wat vir die publiek beskikbaar is.

Aangesien dit ’n streekshospitaal is, bied die instelling dienste aan mense uit die hele JB Marks Munisipaliteit. Dit sluit pasiënte in van nie net Potchefstroom nie, maar ook van omliggende dorpe soos Carletonville, Fochville en Parys.

Daarbenewens het die Potchefstroomse Streekshospitaal ’n borskliniek wat al verskeie jare bedryf word. Behandeling wat chemoterapie insluit, word na die Klerksdorp/Tshepong Tersiêre Hospitaalkompleks verwys.

Die studie het bevind dat hoewel pasiënte in die laat stadiums vir behandeling aangemeld het, die oorlewingskoers steeds optimisties gelyk het. Prof Burger sê dat die resultate aan die einde van die studie in 2018 ’n oorlewingskoers van 82,5% vir pasiënte getoon het, wat die waarde beklemtoon van gereelde opvolg- en moniteringsbesoeke ná behandeling.

....

Prof Juhanita Burger

Dr Jesslee du Plessis

Submitted on Fri, 10/28/2022 - 10:28