Hoërskoolleerders leer meer oor die gevolge van klimaatsverandering

Leerders van die StudyXpress Hoërskool in Potchefstroom het die geleentheid gekry om self te sien watter tipes besoedeling en drywers van klimaatsverandering in hul omgewing aangetref word. Die groep leerders en ’n wetenskaponderwyser het onlangs die Noordwes-Universiteit (NWU) se Welgegund atmosferiese metingstasie vir ’n veldlesing oor luggehalte en klimaatsverandering in ’n werklike omgewing en met werklike metings besoek.

Die opvoedkundige uitstappie was deel van ’n loodsprojek vir gemeenskapsbetrokkenheid van die Atmosferiese Chemie-navorsingsgroep (ACRG) van die NWU se navorsingsentiteit vir Chemiese Hulpbronveredeling. Die ACRG is ongeveer 30 jaar gelede deur prof Kobus Pienaar, ’n alombekende Suid-Afrikaanse wetenskaplike, gestig. Die aanvanklike fokus daarvan was navorsing in atmosferiese kinetika en dit het later na ander subgebiede van die atmosferiese wetenskappe uitgebrei.

“Talle eksterne samewerkings tussen ons groep en ander in die land en in die buiteland het daarna ontstaan en is in stand gehou, en een van hierdie samewerkings het die totstandkoming van die veldmetingstasie moontlik gemaak,” sê die stasiebestuurder, dr Miroslav (Micky) Josipovic.

Die vernaamste medewerkers op daardie tydstip was die Departement Fisika op die NWU se Mahikengkampus en twee Finse vennote, die Universiteit van Helsinki en die Finse Meteorologiese Instituut. Hulle het ’n mediumgrootte mobiele sleepwa met ’n beperkte aantal basiese atmosferiese instrumente en toebehore ingevoer. Hulle het ook hulle kundigheid in die bedryf en instandhouding van hierdie gerief gedeel en sedert 2006 die bevindings gepubliseer op grond van die data wat gegenereer en ingesamel is, sê dr Josipovic.

Die groep, saam met medewerkers en vertroude vennote in die Europese Unie en soms die Verenigde State van Amerika, het deurlopend hul vermoëns, datastrome en eweknie-beoordeelde publikasievermoëns uitgebrei.

Dr Josipovic sê die leerders het die geleentheid geniet – hulle is bederf met ʼn metingsdemonstrasie en is ook gewys hoe om monsters te neem.

Die groep beplan soortgelyke ekskursies in die toekoms. “Ons beskou ons werk as belangrik en deur dit met die publiek te deel, kan ons ’n sterker verhouding tussen die universiteit en die gemeenskap smee,” sê hy.

Meer oor die Welgegund atmosferiese metingstasie

Die stasie is een van die bestoegeruste atmosferiese metingsgeriewe in Afrika wat die produktiefste bedryf word. Welgegund is ingesluit by die Navorsingsinfrastruktuurplatform vir Biogeochemie (Biogeochemistry Research Infrastructure Platform) van die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI), en vorm deel van die uitgebreide varswater- en grondomgewingsobservasienetwerk (Expanded Freshwater and Terrestrial Environmental Observation Network) van die DWI.

Dit illustreer verder die waarde van Welgegund en die NWU se wetenskaplike samewerking met die nasionale regering, en die waarde daarvan vir die hele gemeenskap. Hierdie vlagskipgerief het ook ’n bydrae gelewer om die universiteit se posisie op graderingslyste soos dié van die ShanghaiRanking op te skuif. ShanghaiRanking het verlede jaar die NWU se navorsingsgroepe in atmosferiese wetenskap en klimatologie onder die top-400 in die wêreld geplaas.

Leerders kyk na ʼn demonstrasie van metings in een van die ruimtes by die veldstasie.

’n Personeellid verduidelik ’n monsternemingstegniek.

Submitted on Tue, 07/04/2023 - 11:38