Hoër prestasie kry ’n nuwe baadjie

’n Ander drag, selfde prag. Sportkodes van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus kry eersdaags nuwe huisvesting wanneer verbouings aan gebou K2 op die Fanie du Toit-sportterrein oorkant die Hoëprestasie-instituut (K21) voltooi is.

Sistematiese ingebruikneming van die herstruktureerde gebou word vanaf einde Mei 2021 beplan met die oog op volledige okkupasie teen die einde van die jaar.

Hierdie besluit is geneem om sowel die Hoëprestasie-instituut as ander navorsings- en opvoedingseenhede soos onder andere Biokinetika en die CHHP (Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie) hulle eie ruimte te gee.

Die Instituut vir Biokinetika is byvoorbeeld tans in Cachetpark in die Virgin Active-gebou geleë.

Volgens Jean Verster, bestuurder van die HPI, sal hierdie verskuiwing duisende plaaslike en internasionale atlete se toegang tot geriewe en kundigheid van hoogstaande gehalte vergemaklik.

“Met hierdie skuif na die nuwe gebou gaan ons werklik ʼn eenstopdiens vir atlete wees. Dit gaan ongelooflik wees.”

Hy noem verder dat daar in gebou K21 aan atlete se onderrig- en leerbehoeftes aandag gegee gaan word, terwyl daar in gebou K2 na hulle oefen- en administratiewe behoeftes omgesien sal word.

Die NWU se verskeie sportkodes (soos rugby, krieket, netbal, hokkie, atletiek, sokker en vele meer), die gimnasium, asook nuwe rehabilitasiegeriewe sal voortaan in gebou K2 gehuisves word.

Nuwe geriewe sal nat en droë herstelareas, hiperboliese suurstofterapie, asook ʼn antigravitasie-trapmeul, NormaTec-kompressietoebehore, en moontlik ʼn kriokamer insluit.

“Met hierdie skuif gaan ons verder uitstyg as een van die land se mees gesogte sportbestemmings. Ons gaan meer aandag aan navorsing kan gee, ons sal beter na atlete se behoeftes kan omsien, en in sy geheel sal die NWU aanlokliker vir atlete as ooit tevore wees,” aldus Verster.

Inderdaad ʼn nuwe jas wat die NWU al te netjies gaan pas.  
    

Submitted on Fri, 05/07/2021 - 07:43