Wanneer gemeenskapslede regshulp nodig het, ervaar hulle dikwels groot struikelblokke omdat hulle ontoereikende finansiële hulpbronne het. Een manier om lede van die publiek met regsdienste te skakel, is om aanlyn kanale te gebruik.
Dit is een van die moontlike oplossings wat in die navorsing van prof Lusanda Beauty Juta, waarnemende adjunkdirekteur van die Skool vir Owerheidstudies op die Mahikengkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU), bespreek word.
“Die beperkings ten opsigte van befondsing en hulpbronne beperk die kapasiteit van regshulp om omvattende dienste te verskaf, wat uiteindelik die gemeenskap se vertroue in die regstelsel beïnvloed,” sê prof Juta, wat haar akademiese loopbaan daaraan wy om die kritieke behoefte aan toeganklike regsdienste te verstaan.
Die verskaffers van regshulp maak gewoonlik op staatsbefondsing, toekennings en donasies staat om dienste aan behoeftiges te lewer, sê sy. Ongelukkig is hierdie befondsing dikwels nie voldoende nie en lei tot ’n opbou van onopgeloste sake en uitgestelde geregtigheid vir talle gemeenskapslede. Hierdie finansiële tekort beperk ook die reeks dienste wat regshulpverskaffers kan aanbied, en beperk hulle vermoë om ingewikkelde regsituasies doeltreffend te hanteer.
Onvoldoende finansiële ondersteuning en hulpbronne, insluitende te min personeel en geriewe, verhoed regshulpverskaffers om aan die regsbehoeftes van alle gemeenskapslede – veral diegene met ’n lae-inkomste-agtergrond – te voldoen. Hierdie ongelykheid vergroot die strukturele ongelykhede, aangesien individue wat nie privaat regsdienste kan bekostig nie, nie hulp ontvang nie.
Prof Juta se navorsing beklemtoon die belangrikheid daarvan om deur middel van tegnologiese en elektroniese platforms gerieflike toegang tot regshulp te verskaf. “Om die uiteenlopende regsvereistes van gemeenskapslede te hanteer, is dit noodsaaklik om tegnologie te benut sodat toegang tot regsdienste moontlik is. Dit sal gemeenskapslede in staat stel om hulle regsgriewe aanlyn in te dien en ’n geskikte regshulpverskaffer in die hande te kry,” sê sy.
Prof Juta bepleit ook die integrasie van tradisionele of gemeenskapsmeganismes om die formele regstelsel aan te vul. Hierdie integrasie kan gemeenskapsbetrokkenheid bevorder en seker maak dat regshulp meer toeganklik vir behoeftiges is. Haar samewerkingspogings op die Mahikengkampus het getoon dat dit ’n positiewe impak op die werwing en behoud van werkers het, wat noodsaaklik is om doeltreffende gemeenskapsbande vir maatskaplike en regsake te behou.
Aangesien gemeenskapsbetrokkenheid noodsaaklik is om regshulp te verleen en vertroue, respek en vennootskappe te bou, beklemtoon prof Juta hoe belangrik dit is om vrywillige werk te doen om die polisie sowel as die burgerlike personeel te ondersteun om verskillende regsbehoeftes te hanteer.
Prof Juta het deur konferensies, simposiums, werkswinkels en seminare saam met regeringsamptenare, gemeenskapsleiers en beleidmakers gewerk om kennis uit te ruil en ’n begrip te bevorder oor die noodsaaklike rol wat gemeenskapsbetrokkenheid in kapasiteitbou speel. Haar bevindings het verder lig gewerp op die noodsaaklikheid vir gemeenskapsbetrokkenheid in die benutting van plaaslike kennis, vaardighede en idees om selfversorgendheid in sleutelgebiede soos landbou, onderwys, gesondheid en maatskaplike dienste te verkry.
Wat aktiewe burgers kan doen
Aktiewe burgers kan help om gemeenskappe veiliger en meer regverdig te maak, sê prof Juta.
Gemeenskapslede kan deelneem aan burgerlike adviesrade, wat verteenwoordigers van plaaslike besighede, kerke, gemeenskapsorganisasies, jeuggroepe, plaaslike regerings en die polisie behoort in te sluit. Hierdie uiteenlopende verteenwoordiging kan waardevolle leiding en ondersteuning bied vir die implementering van doeltreffende strategieë om misdaad te verminder, die ingesteldheid van die publiek te wysig, en konstruktiewe betrokkenheid te bevorder.
Sy ondersteun ook die idee dat ’n bewustheid onder gemeenskapslede geskep word oor die regshulp wat deur die staat gebied word, soos om die polisiedepartement se webwerwe te gebruik om klagtes en aanbevelings in te dien, en so te verseker dat daar deursigtigheid met die bestuur van hierdie inligting is.
Gemeenskapslede moet ook aan misdaadvoorkomingstrukture soos die gemeenskapspolisiëringsforums en jeughulpgroepe deelneem, aangesien dit toeganklike en doeltreffende platforms is om op ’n positiewe wyse met wetstoepassers te skakel.
“Die betrokkenheid van die Mahikengkampus by gemeenskapsregshulp kan ook na akademiese pogings uitgebrei word, met studente en personeel wat aan opnames oor wetstoepassers deelneem. Hierdie terugvoer kan gemeenskapspolisiëringspogings rig en groter samewerking tussen die wetstoepassers en die inwoners skep,” sê prof Juta.
Sy raai gemeenskapslede aan om hulle plaaslike polisie op sosiale media te volg om die jongste inligting oor aktiwiteite, waarskuwings oor misdaad en ander belangrike inligting te kry.
Prof Lusanda Beauty Juta, waarnemende adjunkdirekteur van die Skool vir Owerheidstudies, stel regshulp vir die gemeenskap beskikbaar.