Hoe om jou navorsingvaardighede aanlyn te ontwikkel

Vir jong navorsers kan die idee om navorsing te doen, nogal intimiderend wees. Selfvertroue kom wanneer jy weet dat jy die vaardighede en insig het om reg te laat geskied aan enige navorsingsprojek wat jy aanpak. Hierdie vaardighede kan nou aanlyn deur die Noordwes-Universiteit (NWU) se pasgoedgekeurde aanlyn weergawe van die kortleerprogram (KLP) in Navorsingsontwerp verkry word.

“Die KLP wat ons geskep het, is ’n aanlyn leerprogram wat studente betrek en hulle in staat stel om die aanlyn platform deur middel van ’n rekenaar of mobiele toestel te gebruik, sê prof Ian Rothmann, die direkteur van die Optentia-navorsingsfokusarea, wat sedert 2014 die kontakweergawe van die program aanbied.

Die aanlyn weergawe is tussen Mei en Desember 2020 geskep, toe ’n span van 31 mense van Optentia hul kragte saamgesnoer het om dit te ontwikkel.

Die kuns om ’n aanlyn program te skep

Daar was verskeie oorwegings vir die ontwerp daarvan tydens die proses om ’n aanlyn KLP te skep. Die eerste was metakognisie, ’n begrip wat noodsaaklik is om studente te help om die menslike leerproses te verstaan. Studente moet kan identifiseer wat hulle sterk punte is en gapings identifiseer, nie swak punte nie.

Die tweede ontwerpoorweging was neuroplasitisiteit. “Wanneer studente verstaan dat die brein regdeur ’n mens se leeftyd voortdurend verander, is dit transformatief, sê prof Kristen Betts van die Drexel Universiteit, wat saam met Optentia aan die ontwerp van die KLP gewerk het.

“Studente moet die doelstelling van elke opdrag beskou as dat dit hulle help om nuwe verbande te ontwikkel, op vorige leer te bou en hulle te help om hulle leer in terme van die werklike wêreld oor te dra.”

Die derde ontwerpoorweging was ’n universele ontwerp vir leer (UDL), wat ’n opvoedkundige raamwerk is wat op navorsing in die leerwetenskappe gegrond is. Dit rig die ontwikkeling van buigsame leeromgewings en ruimtes wat individuele leerverskille kan akkommodeer.

Wat, waarom en hoe?

UDL bestaan uit drie elemente. Die eerste is ’n netwerk van herkenning, of die “wat”, wat veelvuldige maniere van verteenwoordiging fasiliteer om aan studente verskillende maniere te verskaf om inligting en kennis te verkry.

Die affektiewe netwerk verteenwoordig die “waarom”, waardeur veelvuldige maniere van betrokkenheid gebruik word om studente se belangstellings te bereik, hulle toepaslik uit te daag en hulle te motiveer om te leer. Hierdie betrokkenheid sluit drie tipes in: opdraggewer-tot-student-betrokkenheid, student-tot-inhoud-betrokkenheid, en student-tot-student-betrokkenheid.

Die derde netwerk is die strategiese netwerk, en dit is die “hoe” wat aan studente veelvuldige wyses gee om hulle uit te druk en in staat te stel om te demonstreer wat hulle weet.

Waaroor die program handel

Prof Rothmann sê dat die KLP uit 10 studie-eenhede bestaan wat nagraadse studente en jong navorsers lei deur die proses om hulle vaardighede in insigte te ontwikkel sodat hulle selfversekerde navorsers kan word:

Studie-eenheid 1: Inleiding tot navorsing, epistemologie, filosofie van wetenskap en wetenskaplike paradigmas, navorsingsbeplanning, ontwerp en proses, en die verklaring van die basiese konsepte van navorsing.

Studie-eenheid 2: Navorsingsentiteite by universiteite, multidissiplinêre navorsing en fenomeengebaseerde leer, filosofie van ’n navorsingsentiteit, en navorsingsvrae en die ontwikkeling van navorsingsonderwerpe.

Studie-eenheid 3: Die navorsingsproses by die NWU, vanaf die belangstellende student tot by die gegradueerde, die akademiese navorsingsproses, en sielkundige gereedheid om by meestersgraad- en PhD-studies betrokke te raak.

Studie-eenheid 4: Eienskappe van goeie navorsing, die sikliese aard van navorsing, die verkryging van ’n navorsingstaal en die navorsingsvoorstel.

Studie-eenheid 5: Die literatuuroorsig en oorsig, die verkryging van inligting, die verwerking van inligting (insluitende akademiese skryfwerk), die produsering van inligting en verwysings (APA- en Harvard-styl).

Studie-eenheid 6: Basiese inleiding tot kwalitatiewe navorsing, die kwalitatiewe navorser as navorsingsinstrument, konseptuele (metodologiese) samehang, steekproefneming in kwalitatiewe navorsing, data-insameling en -ontleding, en betroubaarheid in kwalitatiewe navorsing.

Studie-eenheid 7: Inleiding tot kwantitatiewe ontwerpe, eksperimentele ontwerpe, kwantitatiewe doelwitstelling en navorsingsvraag, deursnee- en longitudinale ontwerpe, inleiding tot statistiek, en die opstel en validering van vraelyste.

Studie-eenheid 8: Inleiding tot gemengdemetodenavorsing, die begrip van terminologie, die redes vir gemengdemetodenavorsing en teoretiese raamwerk. Dit sluit ’n sosio-ekologiese model, eienskappe van gemengdemetodenavorsing, wêreldbeskouings/paradigmas wat met gemengdemetodenavorsing verband hou, sleutelbesluite in die selektering van die toepaslike mengsel van navorsingsmetodes, hoe om navorsingsvrae in gemengdemetodenavorsing te formuleer, en data-ontleding in.

Studie-eenheid 9: Kwantitatiewe data-ontleding met JASP, Mplus, R/Rstudio, Excel en Eviews.

Studie-eenheid 10: Publiseer jou navorsing in ’n vaktydskrif en kommunikeer jou navorsing met die geskikte impak.

Hoe om te registreer

Optentia bied die KLP drie keer per jaar aan en enigeen wat belangstel om daarvoor te registreer kan vir Lynn Booysen by lynn.booysen@nwu.ac.za of 016 910 3410 kontak. Jy kan ook Optentia se webwerf besoek.

Jy kan ook na ’n video oor die ontwikkeling van hierdie KLP kyk, en die webinaar geniet wat Optentia hierdie jaar aangebied het om die aanlyn KLP bekend te stel.

Prof Ian Rothmann

Prof Ian Rothmann, direkteur van die Optentia-navorsingsfokusarea.

SLP

Die voorblad van die webaansoek vir die kortleerprogram oor Navorsingsmetodologie.

Submitted on Tue, 05/04/2021 - 15:43