Statistiek toon dat 61% van die bevolking in Suid-Afrika óf oorgewig óf vetsugtig is. Die inname van ’n oormaat suiker lei tot verskeie gesondheidsprobleme, wat nie-aansteeklike siektes soos hartaanvalle, diabetes en kankers insluit, om maar net ’n paar te noem. Die maklike antwoord vir ’n oorgewigbevolking is dus om minder suiker te eet, of nie?
Die feit is dat smaak ’n belangrike faktor is wanneer ons voedselprodukte kies, dus sal verbruikers eerder “ongesonde” voedsels met ’n hoër suikerinhoud kies. Verbruikers het ’n algemene persepsie dat voedsel met ’n laer suikerinhoud gesonder produkte is wat sleg kan smaak, en dat daardie voedselsoorte slegs geëet word as ’n mens gesondheidsprobleme soos diabetes en gewigsprobleme het.
Navorsers by die Skool vir Fisiologie, Voeding en Verbruikerswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit het onlangs hierdie raaisel probeer oplos. Mej Telana van Zyl, ’n meestersgraadstudent in Verbruikerswetenskappe, en haar studieleiers, prof Annchen Mielmann en dr Neoline le Roux, het hulle navorsing by hierdie jaar se 14de Pangborn Sensory Science-simposium oor volhoubare sensoriese wetenskap aangebied. Hierdie interaktiewe gebeurtenis, wat lewendig gestroom is, het van 9 tot 12 Augustus 2021 plaasgevind.
Hulle navorsing het gefokus op die ontwikkeling van die emosiewoordeskat wat verbruikers as proeërs gebruik om suikervrye sjokolade te beskryf. Verskeie studies het die verband bevestig tussen die sensoriese eienskappe van voedsel en verbruikers se emosionele reaksies, wat hulle voedselkeuses beïnvloed. Min studies het egter gekyk na die wyse waarop verbruikers se proeërstatus (nul-, medium en superproeërs) hulle emosies beïnvloed wanneer hulle suikervrye voedselprodukte eet.
Die doel van hierdie navorsing is om ’n emosiewoordeskat te ontwikkel om suikervrye sjokolade volgens die status van verbruikers se proevermoë te beskryf. Hierdie studiesteekproef het uit Suid-Afrikaanse verbruikers bestaan. Om die data in te samel, het elke respondent ’n melk- en ’n donker- suikervrye sjokolade (twee monsters) gekry om te proe. Nadat goedkeuring oor die etiek verkry is, is ’n elektroniese vraelys gebruik om kwantifiseerbare data te verkry wat toe statisties ontleed is.
Resultate het getoon dat respondente in drie proeërstatusgroepe ingedeel is, met ’n ongeveer gelyke verspreiding tussen nulproeërs, medium proeërs en superproeërs. Die meeste respondente het aan die hand van ’n 5-punt-Likertskaal meer van die donker sjokolade as van die melksjokolade gehou. Meer as die helfte van die nulproeërs het egter positiewe emosies vir die melksjokolade gekies, terwyl die medium proeërs meer positiewe emosies vir die donker sjokolade gekies het. Die meeste van die superproeërs (verhoogde sensitiwiteit vir ’n bitter smaak) het die grootste seleksie negatiewe emosies vir donker sjokolade gehad. “Verbruikers verskil volgens hulle proeërstatus. Hulle neem ’n spesifieke produk verskillend waar, en daarom is dit die moeite werd om hierdie assosiasie tussen verbruikers se emosie ten opsigte van suikervrye sjokolade te ondersoek,” meen Telana.
Hierdie bevindings het aangedui dat elke proeërstatus die ontwikkeling van ’n bepaalde emosiewoordeskat vereis vir respondente om emosioneel met suikervrye produkte tevrede te wees. Dit bevestig dat sensitiwiteit vir smake onder verbruikers verskil en ’n beduidende impak op hulle emosies en uiteindelik hulle voedselkeuses kan hê.
“Hierdie emosiewoordeskat sal tot toekomstige navorsing oor sensoriese aanvaarbaarheid van en gedrag ten opsigte van sjokolade en suikervrye produkte vir die Suid-Afrikaanse mark bydra,” sluit prof Mielmann af.
Prof Annchen Mielmann
Dr Neoline le Roux
Mej Telana van Zyl