Afrika is en sal vir die afsienbare toekoms wêreldwyd die vasteland met die jongste bevolking wees. Intussen leef baie meer mense in Afrika toenemend langer.
Hierdie bevinding is op demografiese tendense op die vasteland gegrond en opper ’n klomp ingewikkelde kwessies vir beleidsmakers. Só sê prof Jaco Hoffman, ’n professor in Sosio-gerontologie by die Optentia navorsingseenheid op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vanderbijlparkkampus.
Sosio-gerontologie is die interdissiplinêre studie van die sosiale aspekte van veroudering en prof Hoffman is die eerste professor op hierdie gebied by die universiteit.
In sy intreelesing getiteld “Africa ageing futures: Challenges, prospects, and ambiguities”, het hy die kompleksiteite rondom die biologiese, sielkundige, maatskaplike en openbarebeleidsaspekte van veroudering en die implikasies vir die toekoms ten opsigte van die vlakke van navorsing, beleidsontwikkeling en praktyk ondersoek.
Hy het in sy lesing gebruik gemaak van die werk van Osborne Macharia, ’n selfopgeleide Keniaanse kommersiële fotograaf en digitale kunstenaar. Osborne se werk fokus op die temas van Afrofuturisme, waardeur hy stereotipes uitdaag en Afrika se toekoms deur foto’s, storievertelling en sosiale insluiting voorstel.
Prof Hoffman wys daarop dat ongeveer 75 miljoen mense in Afrika tans 60 jaar en ouer is, en sê dit sal teen 2050 byna vervierdubbel tot amper 235 miljoen. Die toename in die getal ouer mense in Afrika, spesifiek in Afrika suid van die Sahara, sal skerper wees as vir enige ander streek en ouderdomsgroep.
“Hierdie oorgangsgebeure vind grootliks teen die agtergrond van armoede en ongelykhede, migrasie en die verviervoudigde siektelas plaas en word verder deur veranderende gesinsdinamiek beïnvloed. Ten spyte hiervan sal Afrika – wat die wêreldbevolking betref – die vasteland met die grootste getal jongmense wees,” sê hy.
Belê in die jonges en die oues
Die implikasie van hierdie tendens is dat dit ten opsigte van ontwikkeling sin maak om ’n billike, intergenerasie- en lewenspadbenadering te aanvaar. Dit beteken dat “gekoppelde lewens” deur beleggings in die jonges sowel as die oues nodig is.
Die oorvleueling met die styging in nie-aansteeklike siektes en toenemende lewensverwagting gaan ’n enorme sosio-ekonomiese impak op Afrika hê, sê prof Hoffman, en noem dat dit die gelyktydige belegging in ouer en jonger geslagte noodsaak.
“Daar is alreeds ’n duidelike en erkende behoefte aan ’n reeks langtermynversorgingsopsies wat vir Afrika toepaslik is namate die ouer bevolking toeneem. Terselfdertyd vereis die hoë las van werkloosheid onder die jeug regdeur Afrika dat ouer mense se langtermyn- maatskaplike en gesondheidsorgbehoeftes aan breër ontwikkelingsagendas gekoppel moet word.”
Hieruit ontstaan twee belangrike en interverwante vrae. Eerstens, kan die gesondheidsbehoeftes van ’n toenemend verouderende bevolking geleenthede bied vir inklusiewe ekonomiese groei, werkskepping en groter ekonomiese stabiliteit? Tweedens, hoe kan langtermynversorging van behoeftige ouer volwassenes werksgeleenthede vir die jonger geslagte en sinvolle werk vir vroue verskaf?
“So ’n voorsiene en naderende intergenerasietoekoms kan dan moontlik die toenemende eis vir groter formele werksverskaffingsbehoeftes hanteer en ’n bydrae lewer tot die uitbreiding van werksgeleenthede vir die jeug van Afrika,” sê hy.
“Dit kan ook die kwessie van geslagsgelykheid, ordentlike werk en die bemagtiging van vroue aanroer deur in opleiding te belê om diegene te bereik wat geen dienste ontvang nie. Op hierdie manier kan die ekonomie vir formele versorging – met ouer mense as deel van hierdie groep – Afrika se pogings versterk om die toestande te skep wat nodig is om ’n samelewing vir alle ouderdomme te ontwikkel.”
Klik hier om meer oor die studie uit te vind.
Kyk na hierdie video waar prof Hoffman Africa Ageing Futures: Challenges, Prospects and Ambiguities bespreek.
Prof Jaco Hoffman.