Hiperteks-digkunsprojek is deel van uitstalling in Rome

Die agt jaar oue Byderhandprojek van die vakgroep Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit is gekies om deel te wees van ’n internasionale hiperteksskeppingsuitstalling wat binnekort in Rome plaasvind.

“Dit is besondere internasionale erkenning vir die vakgroep Skryfkuns, en veral vir die tuinverse-been van die Byderhandprojek in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese tuin,” sê prof Bernard Odendaal.

Uitstalling bied ’n blik op hipertekswerke van meer as drie dekades

Die uitstalling Hypertext & Art: A Retrospective of Forms vorm deel van die Association for Computing Machinery (ACM) se Hypertext and Social Media 2023-kongres in die Capitoline Museum in Rome wat van 6 tot 20 September duur. Die Capitoline word as een van die oudste museums in die wêreld beskou. Dit is beroemd weens sy versamelings en uitstallings van antieke kuns.

Dié besonderse uitstalling bied ’n oorsig oor hipertekswerke van die afgelope 35 jaar. Die doel is om kongresdeelnemers se begrip te verryk van die uiteenlopende maniere waarop kunstenaars wêreldwyd hulleself deur hiperteks uitgedruk het. Die uitstalling streef daarna om hiperteks beide as ’n wetenskaplike studieveld en ’n artistieke praktyk aan nuwe gehore bekend te stel.

Dit bevat ’n wye reeks hipertekste wat sedert die middel van die 1980’s deur kunstenaars en wetenskaplikes geskep is. Volgens die kuratorverklaring bied dit deur middel van verskeie digitale platforms en benaderings ’n verkenning van die ontwikkelende vorme van hiperteksskepping wat onstaan het, en wat, soos die mediateoretikus Jay David Bolter beweer, die manier waarop die mensdom dink, aansienlik beïnvloed het (vir meer inligting besoek: https://the-next.eliterature.org/exhibition/hypertext-and-art/curatoria….)

Volgens die kurator, prof Dene Grigar van die Washington State University, Vancouver, bied die uitstalling ’n terugblik op die historiese, artistieke en wetenskaplike vordering wat sedert die einde van die drukpersera en tot aan die begin van die digitale era behaal is.

Meer oor die Byderhandprojek

Die Byderhandprojek behels die installering van digitaal-bemiddelde gedigte en verwante artistieke materiaal in botaniese en ander tuine op ’n aantal plekke in Suid-Afrika.

“Dit gaan om sogenaamde lokatiewe literatuur, dit wil sê gedigte en ander tekste wat, by wyse van byvoorbeeld slimfone waarmee QR-kodes geskandeer word, gelees en beluister kan word by die plante of ander tuinvoorwerpe wat daardie skeppings as onderwerp het,” sê prof Franci Greyling, wat die Byderhandspan verteenwoordig. Vir meer oor Byderhand besoek http://www.byderhand.net/.

Die Byderhandprojek is opgeneem onder die uitstallingstema: Beyond the click: Experimental methods for navigating and experiencing hypertext art.

Dit is veral die deel van die projek in die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin – met die klem wat daar op breë toeganklikheid geplaas is – wat as uniek tussen die ander werke in die uitstalling sal uitstaan.

Die Byderhand Karootuinverse-installasie vorm deel van die brailleroete wat in September 2022 in die genoemde botaniese tuin in Worcester bekendgestel is.

Die projek is in samewerking met die tuinbestuur daar onderneem en die brailleroete en tuinverse-installasie is geïntegreerd met beoogde tuinontwikkelings beplan en onderneem.

Plate met die werk van 10 digters uit die omgewing is op strategiese plekke langs die roete geplaas, waar besoekers dit op hulle selfone kan lees en daarna kan luister. Die digters, onder wie twee blinde digters, William Rowland en Jacques Coetzee, het self hulle gedigte voorgelees. Die klankervaring word uitgebrei deur musiekverwerkings van die gedigte, asook deur vertalings in Engels, Duits, Portugees en Xhosa.

Wat verdere waarde tot die wandelpad voeg, is dat die Byderhandplatform en -koppelvlak saam met die visuele en brailleskrif-inligtingsborde gebruik word om botanie-inligting langs die roete beskikbaar te stel. Dié oudiogids dra by tot toeganklikheid en die rykdom van ervarings vir die tuinbesoekers.

Besoek die uitstallingsblad by https://the-next.eliterature.org/exhibition/hypertext-and-art/index.html.

Submitted on Thu, 08/31/2023 - 11:36