Help ons om ons top-NWU-alumni te kies

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is trots op sy merkwaardige alumni wat aktief voortgaan om waardevolle bydraes met ’n groot impak op alle gebiede van die samelewing te maak – en nie net plaaslik nie, maar ook in die buiteland.

As jy ’n NWU-alumnus of ’n personeellid is wat van ’n alumnus weet wat op hulle kundigheidsgebied uitstaan, is dit nou die tyd om jou stem te laat hoor. Jy kan buitengewone individue vir die NWU se hoogste eer aan sy alumni – die Alumni-uitnemendheidstoekennings – benoem. Nominasies sluit op 31 Julie.

Die persoon wat jy benoem, kan dalk net een van die heel bestes van die NWU-alumni wees wat vereer gaan word tydens die agtste tweejaarlikse toekenningseremonie wat later hierdie jaar plaasvind.

Die tweejaarlikse toekennings gee openbare erkenning vir buitengewone bydraes tot die samelewing, en aan alumni wat ’n deurlopende verbintenis tot die NWU toon. Hierdie alumni is die ware fakkeldraers in ons gemeenskappe en laat nooit na om die NWU voor te hou as universiteit wat wêreldwye erkenning geniet nie.

Die ererol van vorige ontvangers sluit prominente en geëerde persone uit al die sfere van Suid-Afrika en die internasionale samelewing in.  Hierdie roemryke ontvangers is onder andere die volgende: prof TT Cloete, regter Frans Kgomo, prof Anis Karodia, Deon Meyer, regter Bess Nkabinde, prof Bismark Tyobeka, prof Tjaart van der Walt, en Sunette Viljoen.

Die universiteit vra nominasies in agt kategorieë, naamlik kuns en kultuur, sakeleierskap, gemeenskapsbetrokkenheid, onderwys, openbare diens, navorsing, sport, en die Jong Alumnus-toekenning. Die negende kategorie, die Leeftydprestasietoekenning, is ’n diskresionêre toekenning.

Nominasies kan elektronies by www.nwu.ac.za/alumni-awards-nomination ingedien word. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Nicolize van der Walt by nicolize.vanderwalt@nwu.ac.za.

Submitted on Fri, 06/30/2023 - 09:49