Die alles-omvattende breë ontleding van 178 bladsye van die Suid-Afrikaanse ekonomie, wat vervat is in die verslag “Growth Through Inclusion in South Africa”, wat deur Ricardo Hausmann en sy span van die Growth Laboratory by Harvard Universiteit opgestel is, is tydig en relevant.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê die vernaamste oorkoepelende fokus van die ontleding en die voorstelle wat gemaak is, bevestig nie net die mate waartoe Suid-Afrika se ekonomiese prestasie die afgelope paar jaar erg agteruitgegaan het nie, maar gee ook waardevolle aanbevelings vir “uitvoerbare” regstellings en hervormings wat dringend geïmplementeer moet word.
“Die Harvard-verslag maak in die besonder oorredende voorstelle om die vermoë van die staat te versterk, en beskou dit as beide ’n tegniese en ’n politieke uitdaging, maar gee ook sterk aanbevelings om algehele insluiting in Suid-Afrika te verseker. Die herevaluering van plaaslike regerings se doeltreffendheid is ook beklemtoon.”
Hy verduidelik dat die dokument innoverende stappe uiteensit om Suid-Afrika se groengroeipotensiaal te ontsluit in ’n wêreld waar minder koolstofdioksied vrygestel word. Laasgenoemde ontvang groot aandag in die Harvard-studie.
“Hoewel die Harvard-verslag noodwendig baie dinge noem wat alreeds deur ander Suid-Afrikaanse studies – soos die onlangse uitvoerige evaluering van die Nasionale Beplanningskommissie van die implementeringsmislukkings van die Nasionale Ontwikkelingsplan – beklemtoon is, vul dit steeds Suid-Afrika se nasionale agenda aan en brei daarop uit.”
Prof Parsons sê dit is waardevol om weer eens gesaghebbende bevestiging van buite te kry van wat in Suid-Afrika verkeerd geloop het en wat gedoen moet word, asook om verskeie nuwe rigtings ten opsigte van beleidsbesluitneming aan te dui.
“Die Harvard-ontleding bevestig dat politiek uiteindelik ’n oplossing moet wees vir die dooiepunt, ideologie, en oorbelasting van die staat en politieke begunstiging . Daar word ook geglo dat daar ruimte is vir beter mobilisering van die privaat sektor en markkragte om Suid-Afrika se sosio-ekonomiese doelwitte met groter sukses te bereik.”
Volgens prof Parsons is die Harvard-studie nog ’n ernstige realiteitskontrole vir Suid-Afrika se swak ekonomiese prestasie en is een wat deur alle besluitnemers in die openbare asook die privaat sektor gelees behoort te word.
“Dit som ons insigte op en brei uit oor wat dringend in Suid-Afrika gedoen moet word sodat ’n werklike verskil in die drievoudige uitdaging van werkloosheid, armoede en ongelykheid gemaak kan word. Hoewel die basiese boodskap van Harvard is dat – ná die einde van apartheid – die ekonomie nou deur stagnasie en uitsluiting gedefinieer word, die praktiese regstellings en hervormings wat deur die studie genoem is, nietemin waardevolle stappe is wat Suid-Afrika sal bemagtig om ’n groter, sterker en beter ekonomie te bou.”