Dit het al die kenmerke van ʼn Shakespeare-tragedie, hoewel die dramaturg se besondere beeldspraak ontbreek.
Die horlosie sê dit is 11:30 en die kwik spoeg reeds vuur onder Tokio se ongenaakbare son. Of die snikhete omstandighede in die Olimpiese Stadion die atlete pla, sal net hulle weet. Die Suid-Afrikaanse 4 X 100 m-aflosspan staan reg saam met hul eweknieë van Jamaika, Groot Brittanje, Japan, Frankryk, Brasilië, Trinidad en Tobago, en Nederland. Clarence Munyai, Shaun Maswanganyi, Chederick van Wyk en Akani Simbine het hierdie.
Met Gift Leotlela beseer, is Maswanganyi as deel van die aflosviertal gekies en hy is veronderstel om ná die eerste 100 m die aflosstokkie by Munyai oor te neem. Chederick van Wyk kry die derde skof, en die pylvak is Simbine sʼn.
Ek dink almal wat hier lees, weet wat gebeur het. Verbeel jouself gou hoe dit moet voel. Jy staan 200 m weg van een stokkie-aangee. Jy is 26, dis die Olimpiese Spele, dis jou kans. Die stokkie val. Jy staan en kyk terug. Dis warm in Tokio. Jy sal volgende keer 30 wees.
“Vir my was dit ʼn groot eer om vandag op die baan te stap. Om hier te wees,” sê Chederick van Wyk. “Net die feit dat ek hier is,” praat hy sonder verwyt met Potchefstroom derduisende kilometers weg. Dis skaars drie uur ná sy Olimpiese droom hom sonder sy toedoen, sonder om ’n tree te gee, sonder die noodlot se vergewingsgawe vir al sy beserings, hom op sy beginplek vasgegespe het.
“Ja, dis unfortunate dat ek nie ʼn kans gekry het om te hardloop nie, maar dit is deel van sport …” Hier raak sy stem nou stil en dit raak weg in die ewige oomblik wat nie gebeur het nie. Dan: “Om nie te kon deelneem het nie, is hartseer, maar daar is geen vertoning wat ek kon sou gelewer het, wat hierdie glimlag van my gesig sou kon afkry het nie. Ek is steeds bly dat ek net hier kon wees.
“Dit maak my net meer uitgehonger vir die volgende Spele. ’n Mens moet net aanhou en aanhou, en dan sal jy dit regkry.”
Die straatadres lees 10-1 Kasumigaokamachi, Shinjuku-ku, Tokio, en daar is ʼn stadion. ʼn Colosseum vir krygers. En ’n paar uur gelede het ons geleer:
Soms hoef ʼn held net te staan.