Haar loopbaan as ingenieur vorder met rasse skrede

“As die droom groot genoeg is, is dit nie die feite wat saak maak nie,” sê Alicia Celliers, ’n alumna van die Fakulteit Ingenieurswese by die Noordwes-Universiteit (NWU).

Alicia het van 2009 tot 2013 haar BEng in Meganiese Ingenieurswese voltooi. Sy is tans ’n projekingenieur by Single Destination Engineering (SDE). SDE is ’n ingenieursontwerpmaatskappy wat in kragopwekking en kommersiële projekte spesialiseer.

Haar motivering om ingenieurswese te studeer, kom van haar obsessie om te verstaan hoe dinge werk, en die motorbedryf het haar na ingenieurswese gelok. Sy verduidelik dat sy nog altyd ’n Top Gear-aanhanger was en dit altyd sal wees.

Alicia was onlangs ’n spreker by ’n virtuele geleentheid oor die top-5 bedryfstendense vir meganiese ontwerp in 2021. Die geleentheid het gehandel oor die regte gereedskap wat wolksamewerking moontlik maak, werksomgewings oor ’n afstand, en bestepraktykoplossings om aan spanne die voorsprong te gee wat hulle nodig het om hulle beste te kan lewer. Sy het inligting gedeel oor die bedryf se uitdagings en lesse, en wat hierdie nuwe jaar vir die bedryf in Suid-Afrika inhou. 

Alicia voeg by dat van haar grootste prestasies was om ’n agt weke lange FEED-stadium van ’n mini-LNG-aanleg in Nigerië te bestuur, met geen spertye wat nie gehaal is nie en geen strafbedrae wat betaal moes word nie. Sy het ook ’n versnelde aanlegmodifikasie van ’n 6 x GE TM2500 Gen4- na ’n 4 x GE TM2500 Gen8- lugaangedrewe turbine bestuur.

Sy was van 2018 tot 2019 die voorsitter van die sentrale tak van die Suid-Afrikaanse Instituut van Meganiese Ingenieurswese (SAIMechE).  Alicia het voor die ouderdom van 30 ’n aandeelhouer van SDE geword. Sy is ook genooi om by Electra Mining Africa 2020  as gasspreker oor die vroeë loopbaanontwikkeling van ingenieurskundiges te praat.

Sy sê ’n les wat sy tydens haar studiejare geleer het, is dat dit nooit te laat is om vir ’n toets of eksamen te begin leer nie. Uitstel is ’n werklikheid, en jy moet uiteindelik begin leer, selfs al moet jy eers jou woonstel skoonmaak, jou handboeke alfabeties herrangskik en een seisoen van jou gunstelingreeks klaar kyk.

Van die dinge wat sy mis om ’n student aan die NWU te wees, is die sosiale saamwees, en om na Impala, Picassos, Bourbons en die Draak toe te gaan.

 “Vir elke jong meisie wat graag ’n ingenieur wil wees: moenie bang wees om jou droom na te jaag nie. Ja, ingenieurswese is basies steeds ’n manswêreld, maar as jy regtig iets wil bereik, kan jy. Jy sal meestal die enigste vrou by ’n vergadering of ’n terreinbesoek wees. Maar maak dit regtig saak?” sluit Alicia af.

 

Submitted on Mon, 02/15/2021 - 10:30