Groot projek bou leierskapskapasiteit in die Nigeriese voedingsektor

Die enkele grootste belegging in voedingleierskapsontwikkeling wat daar nog ooit op die Afrika-vasteland was, dra vrug, en die Noordwes-Universiteit (NWU) speel ’n belangrike rol daarin.

Die program van R20 miljoen, Leadership Development for Accelerated Progress in Nutrition in Nigeria (LEDA-NN), wat deur die Bill en Melinda Gates-stigting befonds word, is besig om verandering in voeding, voedselstelsels en gesondheid in Nigerië te bevorder.

Hierdie program behels grootliks dat voedingkundiges van die NWU ’n reeks intensiewe leierskapsontwikkelingswerkswinkels ontwerp en aanbied. Dit sluit ook pogings in om ’n volhoubare impak op leierskap onder voedingkundiges regoor die res van Afrika te verseker.

Prof Johann Jerling van die Sentrum van Uitnemendheid vir Voeding (CEN) in die Fakulteit Gesondheidswetenskappe sê die projek bestaan uit ’n reeks van vier werkswinkels wat oor ’n 18 maande lange tydperk in Nigerië aangebied word. Die eerste twee werkswinkels het in Augustus en Oktober 2022 plaasgevind, gevolg deur nog een in Mei 2023. Die vierde werkswinkel sal in September 2023 aangebied word.

Sestig middel- tot seniorvlak voedingkundiges van die Nigeriese regering en nieregeringsektore, asook uit die akademie, is gekies uit meer as 250 aansoekers om aan die projek deel te neem.

“Die projek bou op CEN se African Nutrition Leadership Programme (ANLP), wat in 2002 ontstaan het, en is die kulminasie van die werk van ’n groot groep hoogs toegewyde en passievolle mense van regoor die Afrika-vasteland.”

Prof Jerling sê LEDA-NN sal ’n omkeerpunt in voeding in Nigerië – die land in Afrika met die grootste bevolking – teweegbring. “Dit lewer ’n beduidende bydrae tot ’n kritieke massa Nigeriese leiers in voeding wat daartoe verbind is om die pogings te lei wat vereis word om ’n impak op die voedingstatus van vroue en kinders regoor die land te maak.”

....

LEDA-NN-groep.

...

Die span van die NWU bestaan uit mnr Sunday Oladiran, dr Cornelia Conradie en mev Yetunde Akinmolayan. Agter is prof Johann Jerling, prof Robin Dolman-Macleod, dr Olutayo Adeyemi en dr Thabo Putu.

Submitted on Wed, 05/24/2023 - 15:20