Groot eer vir ontluikende navorser

Maricélle Botes se lang reis saam met die Noordwes-Universiteit (NWU) het vrugte gedra. Hierdie finalejaar-PhD-student by die navorsingseenheid vir Reg, Geregtigheid en Volhoubaarheid is deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) met ’n toekenning vir navorsingsuitnemendheid vir die volgende geslag navorsers in die geesteswetenskappe, sosiale wetenskappe en regskategorie vereer.

Dit is ter erkenning van haar uitstekende akademiese prestasie en gedemonstreerde potensiaal om aansienlik tot innovasie by te dra.

“My navorsing delf diep in die regsraamwerk vir klimaatsaanpasbaarheid in Suid-Afrikaanse stede. Dit behels die grondige ontleding van wetgewing op stedelike vlak en fokus op die bestuur van stadsverordeninge oor ruimtelike beplanning en grondgebruik,” verduidelik sy.

Sy wil deur empiriese navorsing in drie sekondêre Suid-Afrikaanse stede die huidige regslandskap probeer verstaan en gebiede vir verbetering identifiseer.

Maricélle sê hoewel dit uit voorlopige bevindinge wil voorkom dat sommige munisipaliteite stappe gedoen het om aanpassings ten opsigte van die klimaat te maak, daar ’n gaping bestaan om klimaatsoorwegings by die plaaslike verordeninge in te sluit. Die doel van hierdie navorsing is om hierdie gaping te oorbrug en uitvoerbare insigte vir beleidsmakers en wetgewers te verskaf.

“Om die NNS se uitnemendheidstoekenning vir volgendegeslagnavorsers te ontvang, is ’n geweldige eer en getuig van die toewyding en harde werk wat ek tot dusver in my akademiese reis belê het,” sê ’n verheugde Maricélle.

Baanbrekersnavorsingseenheid

Maricélle is ’n PhD-navorser in die navorsingsleerstoel NNS SARChI: Stede, Reg en Omgewingsvolhoubaarheid (CLES), wat deel vorm van die navorsingseenheid vir Reg, Geregtigheid en Volhoubaarheid.

“Die navorsingseenheid benut die reg om innoverende juridiese oplossings te verkry om geregtigheid en volhoubaarheid in Suid-Afrika en in die streek te bevorder. Die fokus is op menslike kwesbaarheid, omgewingsverandering, geregtigheid in die praktyk en finansies, en handel en innovasie,” verduidelik prof Mitzi Wiese, wat aan die hoof van die eenheid staan.

Maricélle skryf haar sukses aan ondersteuning van akademici soos prof Wiese, kollegas, en studieleiers soos prof Anél du Plessis, buitengewone professor by die Fakulteit Regte, en haar eie netwerk van familie en vriende toe.

“Ek is al deel van hierdie leerstoel sedert die instelling daarvan in 2019, eers as LLM-student en toe as PhD-student.

“Hierdie erkenning beteken vir my baie, aangesien dit die waarde beklemtoon van die navorsing wat ek doen, die potensiële impak daarvan op ons samelewing en die verskillende gebiede van die reg wat ek in my PhD-navorsing betrek,” sluit sy af.

Saam met Maricélle Botes is prof Bismark Mzubanzi Tyobeka, NWU hoof en visekanselier, prof Dumi Moyo, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe (heel links), en prof David Modise, dekaan van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe (heel regs). Haar bestaan draai om haar gunstelingaanhaling: “Alles is moontlik as jy genoeg waagmoed het”.

Submitted on Tue, 11/14/2023 - 10:31