“Ek kan nie anders nie, ek is so grootgemaak Oom,” antwoord sy dié skrywer se pleidooi om hom op sy noemnaam aan te spreek. Dit is ʼn besliste weier van die sagaardige 17-jarige wat oorkant my sit op die Noordwes-Universiteit se kampus in Potchefstroom, wêrelde verwyderd van die gemeenskap van Groot Brakrivier in die Wes-Kaap, sowat 10 km noordoos van Mosselbaai.
Daar waar dwelms, drankmisbruik en geweldmisdaad deel van die 17-jarige Dueliney Blokland se daaglikse lewe was. Daar waar sy gesien het hoe jongmense, soos sy, hul lewens met beloftes aan bendes oorgee, waar hoop verval. Daar waar sy besluit het om in haar oortuigings te volhard, haar buitewêreld uit te sluit, en haar eie toekoms te bou.
“Dit was veral erg in die area waar ek bly. Ek het darem al van vroeg af geleer in watter situasies ek myself nie moet kry nie. Ek weet hoe om myself nie in gevaar te stel nie,” vertel sy.
Dít, en haar wegkruipplek was ʼn wonderwêreld van leer, lees en droom. “Ek was van kleins af al fanaties oor leer. Ek het enige boek wat ek kon kry, gelees en baie tyd agter die boeke spandeer. Vir my was dit baie lekker om nie in die strate rond te hang nie.”
ʼn Smullekker romanse is haar gunsteling verbeeldingkos en wat leer betref... wel, sy is die eerste leerling met ʼn A-gemiddeld in 17 jaar by haar skool. Dit getuig van laat aande en vroeë oggende, skedules wat streng nagevolg was en selfs haar toetse het sy weer en weer uitgewerk en uitgeskryf.
Haar toewyding het haar toekennings as junior sowel as senior dux-leerling by Groot-Brakrivier Sekondêre Skool besorg sowel as twee beurse (meriete en leierskap) by die NWU. Nou vir die volgende stap.
“Ek is by die Fakulteit Opvoedkunde ingeskryf waar ek in Lewenswetenskappe gaan spesialiseer. Dit is iets waarvoor ek ʼn passie het en waarvoor ek lief is. Ek weet waartoe ek in staat is. Ek wil graag my graad voltooi en dan my honneurs, M en D doen. My doel is om ʼn dosent en navorser by die universiteit te word.”
Sy is reg om haar droom uit te leef.
“Ek is baie opgewonde. Ek kan nie wag om my boeke te ontvang nie. Die kampus is so mooi. Dit is net baie groot. Ek is so bang ek verdwaal en kom laat vir klas.”
Tog gaan haar groeigrond nie ver van haar gedagtes wees nie.
“Ek gaan my ma-hulle en my boeties mis, maar ek is gereed om my vlerke te sprei en ek sien uit na die nuwe hoofstuk in my lewe.
Dit is nou ma Schumanaine en boeties Zion (15), Liale (10) en Billian (4). “My ma is ʼn baie sterk vrou. Sy is ʼn rolmodel en my beste vriend. So is só standvastig in haar geloof. Sy sal uit haar pad uit gaan en alles in haar vermoë doen om dit wat ons nodig het vir ons te gee. Sy is my rots en my grootste motivering. Ek sou nie vandag hier sonder haar ondersteuning gewees het nie.”
Wanneer sy aan haar broers dink, spring daar ʼn glimlag op haar gesig.
“Zion is nie so stil en teruggetrokke soos ek nie. Hy skyf baie goeie opstelle en het ʼn groot verbeelding. Liale is ʼn baie presiese mens en hou nie daarvan om te sosiaal te wees nie. Wiskunde is sy sterkpunt. Billian het ʼn omgee-natuur. Hy sal altyd mens met ʼn drukkie troos wanneer jy huil.”
Sy weet nie waar haar pa is of wat hy doen nie.
Terug na haar ma toe. Dit is sy wat vroeg reeds Dueliney se potensiaal raakgesien het. Haar ma het haar op vierjarige ouderdom kleuterskool toe geneem, maar die onderwyser het gesê dit is te vroeg. Dit is nie nodig nie. Sy gaan ʼn agterstand ervaar. Basta daarmee, het Schumanaine besluit. Sy het klein Dueliney self geëvalueer en op die ouderdom van vyf was sy laerskool toe.
“My ma se verweer was dat ʼn ma haar kind ken. Ek het nooit enige agterstand ervaar nie,” sê sy.
Nog slegs 17 en sy is reeds ʼn eerstejaar by die Noordwes-Universiteit, doelgerig en vasbeslote. Haar voormalige hoërskool se top presteerder, hoogste gemiddeld in amper twee dekades. Nee, daar was geen agterstand nie.