Groeivooruitsigte sal verbeter indien beleidsonsekerheid afneem

Dit was nie onverwags dat die Monetêrebeleidskomitee (MBK) van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) met ’n meerderheidstem van vier teen twee (in teenstelling met ’n eenparige besluit in Mei) besluit het om weer eens vir eers die rentekoerse onveranderd te laat nie.  

In sy kommentaar op hierdie besluit op 18 Julie sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat die MBK gekyk het na die risiko’s vir die vooruitsig van inflasie wat nou weer aan die styg is, en’n lae en stabiele inflasie wil hê wat by sy 4,5%-teiken bly.   

“Die meerderheid van die MBK-lede het dus ’n ‘taaiheid’ in die inflasievooruitsig bespeur wat eers oorkom moet word voordat hulle gaan stem om hulle huidige standpunt te verander.  Leenkoste vir besighede en verbruikers sal dus nog langer hoog bly.”
Prof Parsons sê egter dat soos dit tans lyk – indien inflasie en inflasionêre verwagtings geleidelik afneem – is daar steeds ’n groot moontlikheid dat leenkoste vir besighede en verbruikers teen die einde van 2024 sal verlaag.

“Die jongste MBK-verklaring bevat ’n paar persepsies en tendense wat die vooruitsig geopen het dat – as daar nie skokke opduik nie en indien die huidige MBK-stem in daardie rigting beweeg – ’n laer rentekoerssiklus dalk later in die jaar kan begin, dalk selfs by die MBK se volgende vergadering.”

Volgens prof Parsons sal wêreldfaktore – soos ’n makliker monetêre beleid van die VS in die nabye toekoms – ook ’n rol in die MBK se besluite speel ten opsigte van die tydsberekening van die plaaslike verlaging van rentekoerse.  In elk geval sal enige uiteindelike verlaging van die rentekoers deur die MBK waarskynlik matig wees, moontlik ’n aanvanklike verlaging van 25 basispunte.

Die monetêre beleid sal dus vir die afsienbare toekoms steeds in die algemeen in ’n beperkte terrein bly.

“Die MBK het sy voorspelling vir groei in die bruto binnelandse produk (BBP) voorlopig op 1,2% in 2024 en 1,6% in 2025 gehou, terwyl die jongste IMF-voorspellings vir ekonomiese groei vir Suid-Afrika op slegs 0,9% in 2024 en 1,2% vir volgende jaar bly.”

Prof Parsons sê die onderliggende boodskap van die MBK-verklaring was nietemin duidelik. “Hoe meer hervormings momentum verkry, hoe meer sal beleidsonsekerheid verminder, en beleggersvertroue en groeivooruitsigte sal versterk word.”

 

Submitted on Fri, 07/19/2024 - 14:13