Golden Key verwelkom nuwe akademiese presteerders

Die onlangse erkenningseremonie vir nuwe lede van die Golden Key internasionale erevereniging het onlangs 250 studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark in hulle geledere verwelkom.

Dr Elmie Castleman, die direkteur van die Suider-Afrikaanse streek van die vereniging, het in haar toespraak die studente met hulle nuwe lidmaatskap van hierdie gesogte internasionale erevereniging gelukgewens. Sy het gesê dat die NWU se takke van Golden Key oor die afgelope jare lewendige groei getoon het.

Sy het ook die prestige van ’n Golden Key-lidmaatskap verduidelik en gesê dat die vereniging wêreldwyd by meer as 400 universiteite regdeur Australië, Kanada, Indië, Maleisië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en die Verenigde State geaffilieer is.

Die vereniging se doelwit is om lede in staat te stel om hulle potensiaal te verwesenlik deur individuele prestasie met diens- en lewenslange leergeleenthede te verbind. Golden Key Suid-Afrika – wat in 2000 tot stand gekom het – het tot dusver ’n invloed op die lewens van meer as 70 000 jong Suid-Afrikaners gehad.

Die hoofspreker was die Suid-Afrikaanse akteur, danser, sanger, komediant, skrywer en regisseur Nhlanhla John Lata.

Hy het in sy toespraak op die eienskappe van leiers gefokus en die waarde en impak van diensleierskap beklemtoon. “Die diensleier is eerstens ’n dienaar, en sy of haar rol kom na vore waar daar seker gemaak word dat ander mense se belangrikste behoeftes vervul word,” het Nhlanhla verduidelik. Hy het bygevoeg dat diensleiers se hoofdoel is om hulle gemeenskap ’n beter plek vir almal te maak.

 

Welbekende Suid-Afrikaanse akteur, Nhlanhla John Lata, lewer die hoofrede.

Erelede wat aangekondig is

Tydens die seremonie is erelidmaatskap aan die volgende personeellede toegeken: Tiisetso John Rantlo (Fakulteit Regte), prof Johann Tempelhoff (Fakulteit Geesteswetenskappe) en prof Jaco Hoffman (Optentia-navorsingsfokusarea).

Dr Elmie Castleman, direkteur van Golden Key Suid-Afrika, saam met Tiisetso John Rantlo en prof Jaco Hoffman. Prof Johann Tempelhoff het erelidmaatskap in absentia ontvang.

 

* Prof Linda du Plessis, adjunkvisekanselier vir beplanning en Vanderbijlparkkampusbedrywighede, dien as die hoofadviseur vir die kampus se tak van die vereniging. Ntokozo Tyapile is die mede-adviseur.

 

 

 

Submitted on Mon, 05/13/2019 - 16:14