Geskommelde kabinet is ’n belangrike stap in die regte rigting

“Die aankondiging op 5 Augustus deur president Cyril Ramaphosa oor ’n geskommelde kabinet, is ’n langverwagte belangrike stap in die regte rigting om sakevertroue te help herbou op ’n tydstip waar dit erg deur onlangse gebeure in Suid-Afrika geruk is.”

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dit is duidelik dat die land in ’n ernstiger sosio-ekonomiese situasie is as toe president Ramaphosa in 2018 as president oorgeneem het.

Hy sê nuwe leierskap op kabinetsvlak het in hierdie veranderde omstandighede noodsaaklik geword. “Dit het veral hoogs noodsaaklik geword om Suid-Afrika se sekuriteitsinfrastruktuur op te knap.”

In sy kommentaar op die skommeling van die kabinet sê prof Parsons ’n kombinasie van negatiewe faktore het toenemend gedemonstreer dat ’n kabinet wat “hulle kant kan bring” nou nodig is om die nuwe sosio-ekonomiese en ander uitdagings te hanteer wat Suid-Afrika ervaar.  

“Groter werkloosheid en stygende armoede vereis nie net goeie regering nie, maar ook dat die nodige beleide en projekte doeltreffend geïmplementeer moet word. Hoewel die jongste kabinetsveranderings moontlik nie aan die verwagtinge voldoen nie, behoort president Ramaphosa se kabinet wel meer sakevertroue te verseker.”

Prof Parsons sê hoewel daar erken word dat die mate waartoe besluite oor ’n veranderde kabinet uiteindelik deur politieke oorwegings gedryf word, daar nietemin belangrike kriteria is waarteen die nuwe kabinetspan in die tydperk wat voorlê deur die sakewêreld en die markte getoets sal word.

Hoewel daar teleurstelling sal wees dat president Ramaphosa nie die geleentheid gebruik het om die kabinet verder vaartbelyn te maak en te verklein nie, sal die sakewêreld waarskynlik die jongste hersamestelling van die kabinet breedweg aanvaarbaar vind.”

Prof Parsons sê dit is baie jammer dat die Minister van Finansies, Tito Mboweni, besluit het om te bedank. Die nuwe Minister van Finansies, Enoch Godongwana, is nietemin ’n ervare opvolger. Hy sal egter in die naderende mediumtermynbegrotingbeleidsverklaring (MTBBV) in Oktober moet toon dat Suid-Afrika met sy staatsfinansies ten volle tot fiskale konsolidering en volhoubaarheid verbind is.

“Bowenal moet die hersaamgestelde kabinet ’n gevoel van dringendheid openbaar oor die remedies en hervormings wat nou nodig is om die Suid-Afrikaanse ekonomie op ’n arbeidsryke groeipad terug te bring, insluitende nouer samewerking met die privaat sektor.”

Submitted on Fri, 08/06/2021 - 12:03