Hulle is gevange geneem, van hulle geliefdes afgesny en saam met duisende ander in luisbesmette kampe opgesluit.
Dit was die werklikheid vir talle Duitse mans wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika en Suidwes-Afrika gewoon het toe die regering van die voormalige eerste minister Jan Smuts, hulle in interneringskampe aangehou het.
’n Nuwe skenking aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Biblioteekdienste fokus op hoe die lewe vir hierdie manne tydens hulle opsluiting was.
Hierdie geskiedkundige versameling dokumente, artefakte en erfstukke is in Januarie hierdie jaar deur Heinz Lange van Somerset-Wes aan die NWU geskenk. Die versameling, saam met ’n video-onderhoud met Heinz, word vanaf 16 Maart in die Ferdinand Postma Biblioteek op die NWU se Potchefstroomkampus uitgestal.
Ontmoet gevangene #807/40
Heinz se pa, Willi Paul Karl Lange, is ses jaar lank opgesluit, eers by die Andalusia-/Jan Kempdorp-interneringskamp en later by die Baviaanspoort-kamp.
Die meeste van die items in hierdie spesiale versameling is met sy gevangenenommer, #807/40, gemerk. Die versameling bevat fassinerende oorspronklike geskiedkundige dokumente, korrespondensie en permitte vir besoeke van Willi se vrou Bertha. Dit dokumenteer die tyd vandat hy as 26-jarige opgesluit is tot met sy vrylating ses jaar later op die ouderdom van 32.
Ander artefakte wat die versameling afrond, sluit meestal handgemaakte items in soos ’n hoed, ’n boekomslag van leer wat Willi vir Bertha gemaak het, ’n handsak, drie beursies met Andalusia daarop gegraveer, en ’n Waverley-sigaretblikkie wat met noukeurig versierde leer oorgetrek is.
’n Lewe in gevangenskap
Willi se korrespondensie toon dat lewe in die interneringskamp nie maklik was nie. Selfmoord het baie voorgekom en die sieldodende tydsverloop moes senutergend gewees het, maar Willi het nie toegelaat dat die toestande hom onderkry nie, en hy het sy tyd benut so goed as wat hy kon.
Dit was in hierdie troostelose kamp dat hy geleer het om die mandolien te bespeel. Hy het ook sy kennis uitgebrei deur verskeie kursusse by te woon wat deur die ander gevangenes (van wie sommige professore was) aangebied is. Kursusse in boekhouding, mandolienlesse, rugbywedstryde en jiu-jitsu is alles met ywer in die kamp aangepak.
Volgens Adri Jansen, bibliotekaris vir spesiale versamelings by die Noordwes-Universiteit se biblioteke, het die kamp ’n baie groot impak op Willi en sy familie gehad. Bertha, sy Suid-Afrikaanse vrou, was swanger toe hy opgesluit is. Sy het nie slegs haar man ses jaar lank verloor nie, maar hy was ook die gesin se broodwinner. Om te oorleef, moes sy terugtrek na haar ouers in Groenpunt, Kaapstad, en nadat Heinz gebore is, na haar suster in Tuine.
“Sy moes van die Kaap na Jan Kempdorp reis om vir Willi te sien. Sy kon hom elke maand net vir ’n halfuur lank sien. Tydens hierdie besoeke kon hulle deur ’n dik ogiesdraadheining met mekaar praat, met wagte wat hulle die hele tyd dophou. Aangesien jong kinders nie die gevangenes kon besoek nie, het Willi sy seun, Heinz, eers gesien nadat hy vrygelaat is. Teen daardie tyd was Heinz reeds amper ses jaar oud.”
Adri sê hierdie manne is nie opgesluit omdat hulle polities aktief was nie – hulle is bloot gevange geneem omdat hulle Duitse burgers was. Om sake nog erger te maak, het dit 10 maande geduur nadat die oorlog in 1945 geëindig het vir die gevangenes om vrygelaat te word.
“Asof die verlies van soveel kosbare tyd nie genoeg was nie, moes hulle tot Maart 1946 wag om weer met hulle gesinne herenig te word.”
Die lewe sou nooit weer heeltemal dieselfde wees as voor die manne opgesluit is nie. Die uitwerking wat die kampe op die gevangenes gehad het, het hulle nog lank bygebly. Volgens Bertha, Heinz se ma, het sy pa aan posttraumatiese stres gely nadat hy vrygelaat is en het vir ʼn tydlank mense vermy.
Sodat ons nie vergeet nie …
Adri glo dat die versameling aan almal wat dit sien die geleentheid gee om na te dink oor ’n stukkie van Suid-Afrika se geskiedenis waaroor daar nie dikwels gepraat word nie.
“Die versameling laat ons ’n oomblik stilstaan om te onthou dat dit in ons eie land gebeur het. Vryheid is broos. As ons nie meer onthou nie, is ons gedoem om die geskiedenis te herhaal,” sluit sy af.
Adri Jansen, bibliotekaris vir spesiale versamelings by die NWU, wys van die foto’s, dokumente, permitte en artefakte wat tydens sy opsluiting tussen Willi Paul Karl Lange se persoonlike besittings was. Willi het die handsak en drie beursies self gemaak. Die foto’s is deel van ’n album deur LT Weichardt getiteld “Agter Doringdraad”.
Willi Paul Karl Lange het tydens sy gevangenskap mandolienlesse geneem. Van die musiekboeke is handgeskrewe, terwyl ’n paar gedruk is.
Willi Paul Karl Lange het dit van ’n leë Waverley-sigaretblikkie gemaak. Hy het dit met leer oorgetrek en kunstige patrone daarop uitgekerf om as geskenk vir sy vrou te gee.
’n Besoeker se permit met ’n foto van Bertha, die vrou van Willi Paul Karl Lange.