Geraldine Fraser-Moleketi en ander takel die onderwerp van die bou van staatskapasiteit

Hulle het niks teruggehou nie, hulle was eerlik in hulle evaluering van die probleme wat Suid-Afrika ervaar, en hulle het nie daarvan weggeskram om moontlik oplossings voor te stel nie. Dit was van die kenmerke van die eerste jaarlikse openbare lesing deur dr Geraldine Fraser-Moleketi, Suzanne Paxton en prof Somadoda Fikeni wat deur die uitvoerende komitee van die Konvokasie van die Noordwes-Universiteit (NWU) aangebied is.

Dr Fraser-Moleketi is ’n voormalige Minister van Staatsdiens en Administrasie en die huidige voorsitter van die Verenigde Nasies se komitee van kundiges oor openbare administrasie (Commitee of the Experts on Public Administration), Suzanne is ’n senior produksieleier, joernalis en aanbieder vir die SABC en RSG, terwyl prof Fikeni die voorsitter van die Staatsdienskommissie is. Die lesing, getiteld Building State Capacity for Economic, Political and Social Stability, is deur die bekende TV-aanbieder Lourensa Eckard gemodereer.

Al drie aanbieders het gepraat van die Springbokke se onlangse oorwinning tydens die IRR Rugby Wêreldbeker en het beklemtoon hoe dit as nasiebou dien en sosiale samesyn bevorder.

Hulle het ook saamgestem dat daar oor die algemeen min besondere leierskap op politieke vlak is, met mense wat al hoe minder polities betrokke raak en dat aktiewe burgerskap al hoe meer agterweë bly.

“Ons is op ’n gevaarlike koers in Suid-Afrika,” sê dr Fraser-Moleketi. Volgens haar is dit noodsaaklik om instellings op te bou om seker te maak dat die openbare staat doeltreffend is.

Sy het ook beklemtoon dat indien daar nie ’n voorneme van die leierskap is om die mense te dien nie, hulle nie daardie politieke posisies behoort te beklee nie, en bygevoeg dat indien staatsamptenare verpolitiseer raak, die publiek daaronder ly.

Prof Fikeni was onomwonde in sy stelling dat diegene aan bewind hulle pad byster geraak het, en dat hulle ruggraatloos geword het. Hy het verduidelik dat daar ’n legitimiteitskrisis is as gevolg van ’n gebrek aan prestasie vanaf die openbare sektor en dat die aanstelling van mense wat lojaal is teenoor die party wat aan bewind is, in plaas van op grond van hulle kundigheid, nou besig is om die land te verwoes.

Suzanne het beklemtoon waarom dit vir burgers belangrik is om aan die demokratiese proses deel te neem deur hulle stemme te laat geld en die verskillende kanale te benut wat tot hulle beskikking is. 

“Indien mense nie van die regering kry wat hulle wil hê nie, waarom neem hulle nie deel nie, of waarom neem hulle nie verantwoordelikheid vir hulle besluite nie? Dit is nodig dat ons vir onsself doelwitte stel. Op die oomblik is ons drywende,” het sy gesê.

Die sprekers het saamgestem dat aktiewe, betrokke burgerskap die beste manier is om die land weer op koers te kry.

Prof Fikeni: “Ons is ver van 1994 af en ons is ver van dit waarna ons gestreef het. Ons het ons verbeelding verloor, ons moet weer nadink.”

Dr Fraser-Moleketi kon dit nie beter gestel het nie toe sy gesê het: “Ons moet die party van die staat skei. Die staat is nie die party nie. Ons moet ’n verskil maak vir die pragtige mense wat nog gebore moet word.”

Van links is Bert Sorgdrager, NWU Raadsvoorsitter, Lourensa Eckard, TV-aanbieder, prof Somadoda Fikeni, voorsitter van die Staatsdienskommissie, dr Geraldine Fraser-Moleketi, voorsitter van die Verenigde Nasies se komitee van kundiges oor openbare administrasie, en Suzanne Paxton, senior produksieleier, joernalis en aanbieder vir die SABC en RSG.

Submitted on Tue, 11/14/2023 - 15:19