Geoktrooieerde rekenmeesters blink nasionaal uit

Die Noordwes-Universiteit (NWU) lewer steeds geoktrooieerderekenmeesterstudente van die hoogste gehalte, soos duidelik blyk uit die resultate van die Aanvanklike Toets van Bevoegdheid (ITC) van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) en die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters van Namibië (ICAN), wat in Januarie geskryf is.

’n Totaal van 99% van die NWU se SAIGR-kandidate het die ITC-eksamen geslaag, wat – persentasiegewys – die tweede hoogste van die 18 deelnemende instellings in die land is. Daarbenewens het 100% van die NWU se ICAN-kandidate die eksamen geslaag. Dit is beduidend hoër as die nasionale slaagsyfer van 75%.

Tien meer NWU-kandidate het in 2023 die eksamen geslaag as in 2022.

Die NWU het drie kandidate gelewer wat deel van die SAIGR se top-10 is. Hulle het almal die eksamen met onderskeiding geslaag. Hulle is Peter Geeringh (2de), Carla van Staden (gesamentlik 5de) en Susanna Huyser (gesamentlik 8ste).

In die geheel het die NWU 17 SAIGR-kandidate gelewer wat met onderskeiding geslaag het. Van die meer as 3 000 kandidate in die land wat die eksamen geskryf het, het slegs 65 met onderskeiding geslaag. Die NWU het ook twee van die topvyf-ICAN-kandidate gelewer, met albei wat met onderskeiding geslaag het.

“Ek is uiters trots op hierdie uitstekende uitslae, maar laat my toe om eers ons geoktrooieerderekenmeestersklas van 2022 met hulle uitmuntende prestasie geluk te wens. Hulle deurlopende harde werk en toewyding aan hulle studies het vrugte gedra, en ek hoop dat hulle in hulle toekomstige ondernemings altyd na uitnemendheid sal streef. Dit sou ook nie moontlik gewees het sonder die toewyding en verbintenis van ons dosente nie, wat almal ’n passie vir ons studente en die beroep het,” sê Heleen Janse van Vuuren, direkteur van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe by die NWU se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

Janse van Vuuren skryf die sukses van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe toe aan die standaard wat hulle vir hulleself stel: “Ons sê met trots dat ons programme van ’n uitstekende gehalte is en dat ons personeel daartoe verbind is om ons studente deur hulle akademiese reis by te staan. Ons evalueer gereeld ons programme om te verseker dat die uitkomste relevant is en van ’n hoë standaard bly. Ons geniet ook die ondersteuning van ons NWU-bestuur, wat verseker dat ons ’n bevorderlike omgewing skep waar ons personeel en studente kan floreer.”

Volgens haar het Suid-Afrika ’n geweldige behoefte aan ekonomiese groei en dit is op hierdie gebied waar geoktrooieerde rekenmeesters van onskatbare waarde is.

“Sonder groei sal die huidige werkloosheidskoers asook die ander finansiële probleme wat ons land in die gesig staar, ’n uitdaging bly. Om hiermee te help, is rekenmeesters noodsaaklik om ons ekonomie te help om belangrike finansiële besluite te neem, soos om in nuwe projekte te belê, winsgewendheid te bepaal, en om besighede te help om gebiede te identifiseer waar daar verbetering en besparings kan wees sodat hulle finansiële prestasies kan verbeter.”

Dit is maar net een van die talle maniere waarop die NWU ’n bydrae kan lewer om ’n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners te bou.

Submitted on Tue, 04/04/2023 - 12:21