Gemeenskapsielkunde-uitgawe oorbrug globale krisisse en plaaslike aksie

Personeellede, studente en belanghebbers van die Noordwes-Universiteit (NWU) het op 2 Oktober die bekendstelling van die tweede uitgawe van die boek, Community Psychology: Global Crisis, Local Realities, and Action Global Crises, op die Potchefstroomkampus gevier.

Verskeie bydraers het tydens die geleentheid kort aanbiedings gedoen, wat elkeen ’n oorsig gebied het oor die wyse waarop hul hoofstukke die sentrale tema van die uitgawe – wêreldwye interverbondenheid – versterk.

Die redakteurs van hierdie uitgawe is prof Norman Duncan, buitengewone professor aan die NWU, prof Vera Roos, ’n sosio-gerontoloog, en prof Jace Pillay, Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel oor opvoeding en die versorging van kinders (South African Research Chair: Education and Care in Childhood).

Hulle het ook erkenning gegee aan die ondersteuning van prof Mirna Nel, adjunkdekaan vir navorsing en innovasie in die Fakulteit Geesteswetenskappe, en die Skool vir Menslike en Gemeenskapsontwikkeling aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Erkenning is ook gegee aan die 23 medeskrywers uit verskillende gebiede van die sosiale wetenskappe wie se diverse perspektiewe die interdissiplinêre omvang van die volume verryk het.

Prof Duncan het in sy kommentaar oor die proses verduidelik dat hierdie nuwe uitgawe opgedateer en getransformeer is. “Die gemeenskappe aan wie ons in die gemeenskapsielkundeboek van 2007 aandag verleen het, verskil van die gemeenskappe waaraan ons in ons eietydse samelewing aandag moet gee.”

Prof Roos het beklemtoon wat hierdie uitgawe uniek maak. “Hierdie publikasie kyk na tradisionele raamwerke terwyl dit op epistemiese geregtigheid en inklusiewe kennisproduksie fokus. Dit brei die bevoegdheid van gemeenskapsielkundiges uit om die geskiedenis van uitsluiting, marginalisering en gelykheid te hanteer.”   

Temas en struktuur van die boek 

Die boek ondersoek die wyse waarop gemeenskapsielkunde ontwikkel om ontluikende temas soos dekolonisasie, klimaatsverandering, geregtigheid en digitale aktivisme te hanteer.  Die doel daarvan is om samewerking tussen studente, navorsers, aktiviste en praktisyns te bewerkstellig om ’n nuwe verbondenheid te laat ontstaan.

Die boek is in 17 hoofstukke en vier afdelings verdeel en dek die geskiedenis van gemeenskapsielkunde, asook eietydse kwessies soos digitale gemeenskappe, noodgevalle wat met klimaatsverandering verband hou, genderverwante armoede, intergenerasiedinamiek en verskillende intervensies in onderwys, leer en navorsing.  

Hierdie boek verskaf ’n breër perspektief van die kompleksiteite wat gemeenskapsielkunde moet hanteer, aangesien dit op gevallestudies en kritieke nadenke oor die praktyk begrond is. Die insluiting van navorsing demonstreer voorts hoe gemeenskapsielkunde in lewensegte kontekste werk en hoe teorieë en metodes gemobiliseer kan word om kollektiewe welstand en maatskaplike geregtigheid te ondersteun.  

Prof Pillay, wat gepraat het oor afdeling 4 wat op onderwys, leer en navorsing fokus, het die verband met die slagspreuk “dink wêreldwyd en tree plaaslik op” beklemtoon. Hy het aangedui hoe dekolonisasie steeds akademiese leerplanne en alledaagse professionele praktyke beïnvloed.

Dr Jeffrey Yen van die Universiteit van Guelph het die waarde van geskiedkundige denke vir gemeenskapsielkundiges beklemtoon, terwyl prof Curwyn Mapaling van die NWU se vakgroep Sielkunde ’n kritiese oorsig oor die boek gelewer het. Hy het twee indrukwekkende hoofstukke uitgesonder: Hoofstuk 6: “Towards rehumanisation and overcoming gendered poverty” deur Puleng Segolo en Lesego Plank, en Hoofstuk 9: “People experiencing houselessness”, deur Janice Frank en Thokozile Mayekiso.

Die boek kan by Van Schaik gekoop word: COMMUNITY PSYCHOLOGY Global Crises, Local Realities, and Action 

Van links is prof Jace Pillay, prof Norman Duncan, kontinuïteitsaanbieder GP van Rheede van Oudtshoorn, prof Vera Roos en prof Curwyn Mapaling.

Submitted on