Gemeenskapsbetrokkenheid is sy passie

Prof Aaron Tshidzumba, adjunkdekaan vir gemeenskapsbetrokkenheid, besigheidsontwikkeling en belanghebberverhoudinge in die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Geesteswetenskappe, het noemenswaardige bydraes op sy kundigheidsgebied en die groei van die universiteit gelewer.

As ’n medeprofessor onderrig hy uitsaaiwese, joernalistiek, en korporatiewe en ontwikkelingskommunikasie. Sy akademiese reis weerspieël sy passie vir die ondersoek van die fyn nuanses van taal, kultuur en kommunikasie.

Prof Tshidzumba, wie se basis op die Mahikengkampus is, is betrokke by gemeenskapsbetrokkenheidprojekte soos die geletterdheidsprojek in digitale vaardighede (Digital Skills Literacy project), ʼn deel van die NWU COLAB-projek. Dié projek word befonds deur die Nasionale Elektroniesemedia-instituut van Suid-Afrika (National Electronic Media Institute of South Africa), ’n entiteit van die Ministerie van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë.

Hierdie projek bied gemeenskapslede in Noordwes die geleentheid om hul basiese rekenaargeletterdheidsvaardighede te verbeter en om professionele sertifikate van Microsoft, Amazon, Coursera en IBM te bekom.

Hy sê meer as 200 mense is tot dusver gedurende 2023 opgelei, onder wie 80 skoonmakers van die Mahikengkampus is wat hulle Microsoft-sertifikate ontvang het.

Die geletterdheidsprojek in digitale vaardighede verskaf ook MICT SETA-opleiding vir individue wat in gemeenskapsradio werk, en tot dusver het meer as 25 persone van die Noord-Kaap en die Vrystaat deelgeneem.

Prof Tshidzumba is ook betrokke by die BUA-digkunsprojek van die Skool vir Tale, wat ’n digkunskompetisie op die NWU se drie kampusse aanbied. Meer as 60 deelnemers het onlangs hulle gedigte by die Vanderbijlparkkampus aangebied en die projek is nou na die Mahikengkampus op pad.

“Wat gemeenskapsbetrokkenheid betref, reik ons uit na skole en so na die volgende geslag,” sê hy.

Die Skool vir Sosiale Wetenskappe is in beheer van ’n groentetuin by ’n hoërskool in Potchefstroom, en prof Tshidzumba koördineer die Skool vir Filosofie se aanneming van drie skole in Tshidilamolomo, ’n landelike gebied buite Mahikeng.

“Ons het onlangs ’n sessie oor loopbaanvoorligting vir meer as 100 leerders gehou, en hulle gewys hoe om aanlyn by die NWU aansoek te doen,” voeg hy by.

Hy sê dat hulle fakulteit trots is op die “nasorg” wat hulle doen – hulle bly betrokke by hulle projekte en maak elke twee maande kontak met hul projekvennote.

Hoe hy gemeenskapsbetrokkenheid sien

Prof Tshidzumba definieer gemeenskapsbetrokkenheid as die proses waarby universiteite by hulle gemeenskapsbelanghebbers betrokke raak om gesamentlike aktiwiteite aan te pak wat wedersyds voordelig is.

“Gemeenskap verwys na ’n verskeidenheid eksterne universiteitsbelanghebbers: die regering, sakeondernemings, NRO’s, maatskaplike ondernemings, kultuurorganisasies, skole, plaaslike regerings en burgers, met die klem op daardie gemeenskappe wat minder hulpbronne het.”

Hy voeg by dat gemeenskapsbetrokkenheid ook verwys na die manier waarop die universiteit met eksterne vennote skakel met betrekking tot betrokke vakkundigheid wat die burgerlike samelewing, die bedryf en die regering nodig het.

“Daar moet deur middel van oop gesprekke samewerking en interafhanklikheid tussen die universiteit en die gemeenskap wees.

“Ten spyte van die konsensus dat daar ’n behoefte aan betrokke en maatskaplik-verantwoordelike universiteite is, is daar steeds verskille ten opsigte van die metodes en die aktiwiteite wat vir betrokkenheid en verantwoordelikheid aangewend moet word.”

Prof Aaron Tshidzumba

Submitted on Thu, 09/28/2023 - 13:01