Suid-Afrika ervaar moeilike uitdagings wat vereis dat die volgende geslag universiteitsgegradueerdes opgeleide leiers met uitgebreide vermoëns moet wees om met gemeenskappe saam te werk sodat probleme opgelos kan word en daar verandering kan kom.
Vier projekte van die Noordwes-Universiteit (NWU) wat in vennootskap met gemeenskappe uitgevoer word, is voorbeelde van hoe samewerking met gemeenskappe ’n impak kan maak.
Fundalula moedig studente aan om loopbane in geografie te volg
Nisa Ayob
Nisa Ayob, ’n dosent by die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, staan aan die hoof van ’n projek wat sy saam met haar derdejaarstudente ontwikkel het. Hulle het ’n app genaamd Fundalula geskep om hoërskole te help om met geografiese inligtingstelsels (GIS) te vorder.
Die idee agter die projek, wat vir Nisa en haar span die 2022 Sharing of Expertise-toekenning besorg het, was om studente aan te moedig om ’n loopbaan in geografie, veral in GIS, te volg. GIS is ontwerp om verskillende voorbeelde van ruimtelike en geografiese data aan te teken, te stoor, te manipuleer, te ontleed, te bestuur en aan te bied.
“In 2016 het die plaaslike regering se onderwysowerheid GIS as een van die skaars en kritieke vaardighede gelys. Dit het die behoefte beklemtoon aan GIS-spesialiste in die land om gemeenskapsontwikkeling, ramp- en besigheidsgemeenskapsbeplanning, landboubeplanning en omgewingsimpakontleding te verbeter. Die vakgroep Geografie en Omgewingswetenskappe op die NWU se Mahikengkampus het besluit om Tiego Tawana, ’n sekondêre skool in Dithakong Village, aan te neem,” verduidelik Nisa oor die projek, wat nou in sy derde jaar is.
Sy voeg by dat die inisiatief tans besig is om ’n nuwe skool in die diep platteland van Mahikeng te selekteer.
“Ek en my kollega, Ncobile Nkosi, het ook ’n portuurmentorskapprogram vir eerstejaar-geografiestudente. Ons moedig die mentees aan om aan die GIS-gemeenskapsbetrokkenheid deel te neem om hulle akademiese ervaring te bevorder.”
Diensleer verander lewens
’n Ander projek wat lewens verander, is ’n diensleerprojek wat deur dr Johan Jordaan van die NWU Besigheidskool en die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gelei word. Dr Jordaan is sedert 2012 aan die hoof van diensleerprojekte in sy MBA Bedryfsbestuur-module.
Die konsep het soveel impak dat daar tussen 2013 en 2022 meer as 100 niewinsgewende organisasies (NWO’s) is wat daarby baat gevind het, en hy het die Engaged Teaching and Learning-toekenning as gevestigde akademikus in die kategorie Diensleer daarvoor ontvang.
Die projek is ’n jaarlikse oefening. Dr Jordaan se studente werk in studiegroepe genaamd sindikaatgroepe, en die groeppunt maak ’n groot deel van hulle finale slaagsyfer uit. Dr Jordaan sê daar is 16 sindikaatgroepe vir hierdie jaar.
“Aan die begin van die semester kry sindikaatgroepe die opdrag om ’n gemeenskapsorganisasie (’n NWO) te kies. Hulle skakel met die organisasie en bepaal wat hulle vernaamste bestuursbehoeftes is. Hulle moet toepas wat hulle regdeur die semester in my Bedryfsbestuur-klas leer om die organisasie te help om hulle bedryfsbestuur te optimaliseer,” sê hy.
Hy verduidelik dat daar tans 16 sulke projekte is, wat wissel van ouetehuise tot diereskuilings, ’n tweedehandseklerebank by ’n skool, VIGS-skuilings en welsynsorganisasies, en ook ander instellings met uiteenlopende behoeftes.
Dr Jordaan sê dat al die projekte lewens verander het.
“Ná baie jare is sommige alumni steeds betrokke by die organisasie wat hulle tydens hulle MBA-jare gekies het. So lank as wat ek vir die NWU Besigheidskool werk, sal hierdie projekte deel van my onderrigpoging wees,” sê hy.
Strewe omgewingsvolhoubaarheid na
Die CLES-navorsing-span, wat bestaan uit die leerstoelbekleër prof Anél du Plessis, postdoktorale genote en PhD- en meestersgraad-studente.
Sedert die totstandkoming daarvan vyf jaar gelede het die navorsingsleerstoel in Stede, Reg en Omgewingsvolhoubaarheid (CLES) in die Fakulteit Regte by die NWU navorsing oor regskwessies rondom stedelike ontwikkeling en die kritiek belangrike nastrewing van omgewingsvolhoubaarheid in plaaslike gebiede gedoen.
Die navorsingspan, wat deur prof Anél du Plessis gelei word, sluit die bekleër van die leerstoel, postdoktorale genote en PhD- en meestersgraadstudente in. Hulle werk het aan hulle talle eerbewyse besorg, waarvan die jongste die NWU se Institutional Excellence-toekenning vir betrokke wetenskap van 2021/2022 is.
Die span rus nie op sy louere nie. Hulle was die afgelope jaar besig om saam met die Konrad Adenauer-stigting navorsing te doen. Hierdie projek genereer en deel inligting oor die optimale gebruik van plaaslikebestuursinstrumente in die Suid-Afrikaanse reg om omgewingsvolhoubaarheid in klein en mediumgrootte munisipaliteite te verseker.
Nog ’n projek het ondersoek hoe plaaslike wetgewing en beleidsraamwerke in ’n seleksie van Suider-Afrikaanse lande met klimaatversagtingsimperatiewe belyn is (al dan nie).
“Ons is trots op wat ons tot dusver bereik het, en ons beplan om ons vakkundige en uitreikwerk in die toekoms voort te sit. Ons sien daarna uit om ons wetenskaplike en maatskaplike impak verder as die eerste vyfjaarsiklus van die leerstoel in stand te hou. Die uitkoms van ’n onlangse aansoek in hierdie verband aan die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika (NNS) word in die komende maande verwag,” sê prof du Plessis.
CLES gaan op 24 Mei die jaarlikse prestige-lesing aanbied, en Danga Mughogho van die Suid-Afrikaanse Stedelike Netwerk sal die toespraak sal lewer.
Verbeter lewensgehalte
Nog ’n projek wat aandag trek, word deur prof Stuart Piketh bedryf, met ’n span van 15 lede wat oor twee fakulteite saamwerk: die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe en die Fakulteit Ingenieurswese.
Die projek het onlangs die Engaged Research and Innovation-toekenning ontvang vir hulle innovasie in die verbetering van die lewensgehalte van lae-inkomstegemeenskappe deur huishoudelike besoedeling te verminder met die gebruik van lae-emissie, semideurlopende koolstowe in Zamdela, Sasolburg.
Al ses stowe wat in die aanvanklike projek gebruik is, sal weer in die 2023-winterseisoen deur die huishoudings gebruik word.
“Die projek is voorts uitgebrei tot ’n loodsprojek waarin 50 stowe in 2023 in Oranjeville in die Vrystaat geïnstalleer sal word. Ons het toegang tot die gemeenskap verkry deur eerstens met die munisipaliteit se luggehaltebeampte te vergader en toe met die Metsimaholo plaaslike munisipaliteit en die wyksraadslede, en laastens met die gemeenskap self. Ná die vergadering met die gemeenskap het inwoners die geleentheid gehad om hulle name op te gee om by die projek ingesluit te word,” sê prof Piketh.
Hy voeg by dat hulle tans besig is om 50 huishoudings te identifiseer om deel van die loodsprojek te word.
“Ons sal binne die volgende maand opnames maak om die algemene lewensgehalte van die huishoudings en hulle energieverbruikpatrone vas te stel. Dit sal gedoen word om teen die einde van die projek die nut te verstaan wat hulle uit die stowe geput het, en ons sal ’n basislyn-luggehaltestudie in ses huishoudings doen. Die vervaardiging van die stowe is reeds goed aan die gang en hulle sal vanaf die einde van Mei vir installering gereed wees,” sê hy.
Prof Stuart Piketh