GeeXpo 2019: gee wiskunde, wetenskap en IT ’n kans

Die aftelling na die Noordwes-Universiteit (NWU) se GeeXpo het begin, en skole regoor sentraal-Suid-Afrika word genooi om aan die jaarlikse ekspo vir wiskunde, wetenskap en inligtingstegnologie deel te neem.

Hierdie jaar se GeeXpo word vir die sewende agtereenvolgende jaar deur die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe op die NWU se kampus in Vanderbijlpark aangebied.

Die spreekwoordelike rooi tapyt gaan op Saterdag, 12 Oktober 2019 vir leerders van graad 7 tot 12 uitgerol word om eerstehands te ervaar hoe wiskunde en tegnologie ’n wêreld van oneindige professionele geleenthede vir hulle kan oopmaak.

Die ekspo, wat deur die Skool vir Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels en die Skool vir Wiskundige en Statistiese Wetenskappe gekoördineer word, gaan vir leerders die kans gee om deel te neem aan verskeie wiskundige en inligtingswetenskapverwante aktiwiteite.

Dit sluit ’n PAT-kompetisie (Praktiese Assesseringstaak-kompetisie), ’n wiskunde- en statistiek-olimpiade, ’n robotika-uitdaging en verskeie bordspeletjiekompetisies in. ’n Aantal interaktiewe werkswinkels sal ook aangebied word. Hierdie werkswinkels sluit in ’n robotika-soldeerwerkswinkel, NWU-studente se statistiekaanbieding, en ’n werkswinkel oor wetenskaplike sakrekenaars (Casio en Sharp).

Om verdere opwinding te verskaf, gaan ’n aantal uitstallers ook hulle produkte, dienste en verwante loopbaangeleenthede vertoon. Die volgende uitstallers gaan hierdie jaar aan die GeeXpo deelneem: Binary Space, Pi Shop, Mobile CompTech, Van Schaik Boekwinkel en die NWU Loopbaansentrum.

Volgens Daleen Gerber, ’n dosent in die vakgroep Wiskunde en Toegepaste Wiskunde, bied die GeeXpo aan honderde leerders die geleentheid om blootgestel te word aan die magdom geleenthede wat met wiskunde en inligtingswetenskap verband hou – nie net as potensiële studiegebied nie, maar ook as ’n opwindende en innoverende loopbaankeuse.

“Die belangrikheid van wiskunde en wetenskap kan nie genoeg beklemtoon word nie,” sê Daleen. Sy verduidelik dat hierdie vakke verpligtend is vir ’n hele aantal gebiede wat baie belangrik is vir die ekonomie en vir die verdere ontwikkeling van Suid-Afrika. Hierdie sektore sluit ingenieurswese, natuurwetenskappe, inligtingstegnologie en medisyne in.

Volgens Daleen is die NWU nie net die voorkeurkeuse wanneer dit kom by die innoverende bevordering van tegnologie nie, maar ook ’n leier in die sektor.

Skole word genooi om soveel leerders as wat hulle kan vir die GeeXpo in te skryf. Vir meer inligting stuur asseblief ’n e-pos aan geexpo@nwu.ac.za of besoek die webwerf. Die sluitingsdatum vir registrasie is voor of op 1 Oktober 2019.

* Vir ’n kort oorsig van die GeeXpo, klik hier om na ’n kort video te kyk.

 

Submitted on Mon, 06/03/2019 - 13:40