GeeXpo 2019: Beurse vir slimkoppe in wiskunde en wetenskap

As jy ooit gewonder het oor die waarde van wiskunde en wetenskap, vra net vir Janu Fouché en Ruan le Hanie om hulle toekomsvooruitsigte met jou te deel.

Janu, ‘n graad 11-leerder van Potchefstroom Volkskool, en Ruan, ‘n finalejaar BSc IT-student, het tydens die jaarlikse Noordwes-Universiteit (NWU) GeeXpo-gebeurtenis hulle pad na sukses geprogrammeer en bereken.

Die onlangse GeeXpo, wat die hoogtepunt op die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe se kalender is, het op inligtingstegnologie, wiskunde en statistiese wetenskappe gefokus en honderde leerders van regoor sentraal Suid-Afrika na die kampus in Vanderbijlpark gelok. 

Trouens, daar was vanjaar ‘n rekordgetal deelnemers wat aan die Wiskunde-olimpiade en die PAT (Practical Assesment Task)-kompetisie deelgeneem het.

Instaatstelling en beloning van akademiese uitnemendheid

Beide Janu en Ruan het volledige studiebeurse vir studies in rekenaar- en inligtingswetenskappe aan die kampus in Vanderbijlpark ontvang – Janu vir sy voorgraadse studies in 2021 en Ruan vir sy honneursgraad in 2020.

Albei hierdie beurse is geborg deur die uitvoerende dekaan van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, prof Eno Ebenzo.  Industrievennoot,Britehouse het ook verskeie pryse vir Ruan geborg, waaronder 'n werksonderhoud.

Nog drie graad 12-leerders, Avian du Plessis, David Grűnewald and Xander Coetzer, het elk ‘n beurs van die NWU se Sentrum vir Bedryfswiskunde en Informatika gewen. Hierdie beurs sal hul registrasiefooi vir hulle eerste jaar van studie dek.

Volgens Daleen Gerber, van die Skool vir Wiskunde en Toegepaste Wiskunde, is die waarde van die jaarlikse ekspo dat dit leerders in staat stel om die volle spektrum te ervaar van professionele geleenthede wat met wiskunde en rekenaarwetenskap verband hou.

Terselfdertyd is die ekspo ‘n platform vanwaar akademiese onderskeiding gevier kan word. Laasgenoemde het betrekking op die wenners in die verskillende GeeXpo-kategorieë, naamlik: Robotika, soos aangebied deur Trophy Robotics, die Wiskunde-olimpiade, die Britehouse GeeXpo-kompetisie, die Gemeenskapsprojek-kompetisie en die gewilde PAT-uitdaging. Die Gemeenskapsprojek-kompetisie en die Britehouse GeeXpo-kompetisie is spesifiek gerig op finalejaar IT-studente.

* Die organiseerders wil graag vir PNA bedank vir hul ruim borgskap vir die  Wiskunde-olimpiade en die speletjiesprogram.

Janu Fouché het die PAT-kompetisie gewen en so ‘n volle studiebeurs vir sy voorgraadse studies aan die NWU se kampus in Vanderbijlpark verwerf. Suné van der Linde van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe oorhandig ‘n sertifikaat van uitnemendheid aan hom.

Jacqui Muller van Britehouse wens vir Ruan le Hanie geluk nada thy die Britehouse GeeXpo-kompetisie gewen het. Hy het ‘n volle beurs vir sy nagraadse studie verwerf.  

Leerders van regoor sentraal Suid-Afrika het die jaarlikse GeeXpo-gebeurtenis bygewoon.

Submitted on Tue, 10/15/2019 - 12:25