Navorsing van die Noordwes-Universiteit (NWU) en vennootinstellings het die rol beklemtoon van Afrika-plante en inheemse kennis in die bestuur van diabetes mellitus, ’n chroniese en potensieel dodelike metaboliese siekte wat miljoene mense wêreldwyd aantas.
Die studie, wat in die vaktydskrif Diabetology gepubliseer is, verduidelik hoe tradisionele praktyke ’n alternatief verskaf vir konvensionele medikasie wat gebruik word om diabetes te behandel.
“Diabetes mellitus word gekenmerk deur ’n hoë morbiditeit- en sterftesyfer, en dit lei tot die toenemende belangstelling in alternatiewe bestuurstrategieë. Hoewel konvensionele medisyne beskikbaar is, maak talle individue in Afrika staat op tradisionele remedies wat van plaaslike plante verkry word,” sê dr John Asong, ’n navorser by die NWU se Eenheid vir Omgewingswetenskappe en Bestuur.
Hierdie vertroue berus op die doeltreffendheid van plantgebaseerde behandelings en hulle minimale newe-effekte, wat dit aanloklike opsies vir die bestuur van diabetes maak, sê hy.
Die resensie het die literatuur van verskeie wetenskaplike databasisse ondersoek, insluitende PubMed en ScienceDirect, en ’n magdom inheemse kennis oor die gebruik van medisinale plante vir die bestuur van diabetes mellitus ontdek.
Die seleksie van plante wat bestudeer is, is deur etnofarmakologiese kennis onderskryf en het die belangrikheid van tradisionele praktyke in die identifisering van behandeling beklemtoon.
Onder die bevindings is 80 verbindings met bekende antidiabetes-eienskappe uit verskeie Afrika- medisinale plante geïsoleer. Hierdie verbindings behoort primêr aan die flavonoïed- en terpenoïed-families. Vername verbindings sluit apigenien, combretin B, konvallatoksien, kaempferol en kwersetien in.
Soos dr Asong sê, is die doeltreffendheid en veiligheid van hierdie verbindings vir die bestuur van diabetes egter nog nie onder kliniese toestande geëvalueer nie. “Ten spyte van die potensiële voordele is daar opmerklik min navorsing op hierdie gebied.”
Verdere navorsing is dus nodig om die anti-diabetiese effek van die verbindings wat bestudeer is, te bevestig en om die werking daarvan te verstaan.
Aangesien diabetes ’n wêreldwye gesondheidsuitdaging bly, bied die integrasie van inheemse kennis en medisinale plante ’n strategie in die stryd teen die siekte. Die skrywers vra dat groter erkenning aan tradisionele medisyne verleen word, en stel voor dat dit met moderne wetenskaplike benaderings gekombineer word sodat die bestuurstrategieë van diabetes wêreldwyd bevorder kan word.
Dr John Asong