Gandhi, Fleischack en hulle verbintenis met die Noordwes-Universiteit

Hy word as een van die grootste menseregtestryders en spirituele leiers van alle tyd vereer. Mahatma Gandhi, wat vreedsame weerstand bepleit het en burgerlike-ongehoorsaamheidsbetogings vir geslagte ná hom beïnvloed het, is ’n internasionale ikoon met ’n spesiale band met Potchefstroom, en indirek met die Noordwes-Universiteit (NWU).

Hierdie verbintenis is ’n spesiale versameling van handgeskrewe regsdokumente wat Gandhi self geskryf het en wat in besit van die NWU is. Dit is in ’n uitstalling by NWU Biblioteekdienste te sien en gee ons ’n kykie op Gandhi se tyd as prokureur in Johannesburg.

Die versameling bestaan uit bykans 70 geskiedkundige dokumente en korrespondensie wat tot so ver as die 1880’s terugdateer tussen hom en die destydse toonaangewende Potchefstroomse prokureur AR Fleischack.

“Dit is werklik wonderlik om hierdie dokumente te lees met hulle waardevolle inligting oor die lewe in Gandhi se tyd en die talle interessante regsake wat hy hanteer het toe hy as ’n prokureur gewerk het,” sê Adri Jansen, die bibliotekaris vir spesiale versamelings by die NWU.

Gandhi en Fleischack was albei op daardie tydstip prokureurs en Fleischack het vir Gandhi verteenwoordig wanneer sy kliënte in die Potchefstroomse hof verskyn het, sê Adri. Fleischack het later die dokumente aan die universiteit geskenk sodat dit veilig bewaar kon word.

Hierdie waardevolle en unieke dokumente word nou in die foyer van die Ferdinand Postma Biblioteek uitgestal, maar as dit nie vir ’n astrofisikaprofessor se liefde vir filatelie was nie, kon dit dalk vir vandag se geslag verlore gewees het. 

Passie vir filatelie bewaar dokumente

Wyle prof Okkie de Jager, ’n gesiene internasionale astrofisikus en die houer van die eerste navorsingsleerstoel in Astrofisika aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, het ’n passie gehad vir filatelie – die studie van posgeskiedenis.

“Dit was hierdie stokperdjie, sy liefde vir posstempels en die gesiedenis daaraan verbonde, wat hom daartoe gelei het om Gandhi se korrespondensie wat nou uitgestal word, te bewaar. Hy was geïnteresseerd in meer as net posseëls, maar ook in die oorsprong en tydlyn van die dokumentering van die posstukke,” sê sy weduwee, dr Estie de Jager.

Sy onthou dat iemand van die NWU se biblioteek in die vroeë 2000’s vir Okkie genader het en vir hom gesê het dat daar bokse vol ou dokumente en korrespondensie in die kelder van die biblioteek is en dat dit weggegooi gaan word. Hy is genooi om te kom kyk of daar iets is wat hy as filatelis wou hou.

“Hy het twee weke lank ‘verdwyn’ en homself onder die bokse en  bokse vol dokumente begrawe. Hy was so opgewonde. Elke brief en elke dokument het vir hom betekenis gehad.” Estie sê dat hy vir haar gesê het dat hy nooit verwag het om so ’n wonderlike vonds soos die Gandhi-dokumente, wat per ongeluk in die bokse beland het wat weggegooi sou word, te ontdek nie.

Die Filatelievereniging van Suid-Afrika het danksy Okkie se harde werk die eerste uitstalling van die dokumente gehou kort nadat hy dit ontdek het.

“Op ’n manier is dit steeds prof Okkie se uitstalling wat ons nou sien,” sê Adri. “Dit is aan hom te danke.  Dit is waarom ons besluit het om sy nalatenskap van die Gandhi-dokumente te eer deur sy storie in die uitstalling in te sluit.

Sy sê NWU Biblioteekdienste wil nou baie graag hierdie dokumente aan ’n groter gehoor bekendstel. “Die volgende stap is om die hele versameling van dokumente te digitiseer en dit aanlyn te publiseer sodat almal dit kan geniet.”

Tot dit gedoen is, nooi sy almal uit wat belangstel om die biblioteek te besoek om te kom kyk na die uitstalling, wat tot Desember gehou sal word.

...

Die versameling in die foyer van die Noordwes-Universiteit se Ferdinand Postma Biblioteek in Potchefstroom.

...

Dr Estie de Jager, weduwee van prof Okkie de Jager, wys trots vir ons ’n boek wat prof Okkie se waardevolle versameling filatelie-artefakte bevat. Hierdie spesiale boek is aan haar gegee deur Okkie se vriend, Gerhard Kamffer, nadat hy gehelp het om die hele versameling te verkoop aan Brian Trotter, wat op daardie stadium die voorsitter van die Royal Philatelic Society in Londen was.

...

AR Fleischack was ’n vooraanstaande prokureur in Potchefstroom en het saam met Gandhi aan baie van die regsake gewerk wat Gandhi se praktyk hanteer het. Hierdie foto is deel van die versameling.

...

Mahatma Gandhi se politieke en spirituele invloed kan steeds vandag gevoel word. Hierdie foto is deel van die versameling.

...

Adri Jansen, bibliotekaris vir spesiale versamelings by die NWU, wys van die waardevolle dokumente in Gandhi se handskrif.

...

Prof Okkie de Jager.

Submitted on Wed, 10/26/2022 - 09:34