Game of Thrones speel sonder reëls

Game of Thrones verbreek al die reëls vir filmvervaardiging. Dit is waarom dit so suksesvol is. “Daar is reëls en wette vir die maak van films wat jy moet nakom, tensy jy ’n bepaalde effek wil skep, sê Phil Pretorius van die Skool vir Kommunikasiestudies op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark.

Hy skryf die ongekende sukses van die HBO-reeks Game of Thrones (GoT) deels aan die opsetlike verbreking van hierdie filmreëls toe.  

Volgens hierdie fliek- en televisie-ghoeroe, spog die GoT-reeks, wat pas die tweede episode van sy agtste en laaste seisoen vrygestel het, met ’n massa getroue aanhangers as gevolg van die produksiespan se doelbewuste keuse om dinge anders te doen.

Oor sterk karakters (en hulle onverwagse ondergang)

GoT vertel die verskillende stories van ’n groep sterk en dikwels geliefde karakters. Phil verwys byvoorbeeld na Ned Stark, ’n sterk karakter met diepgewortelde waardes.

“Wanneer Ned redelik vroeg uit die storie verdwyn, is die kyker geskok en verward,” sê hy. “Aangesien die reeks op ‘n intelligente gehoor gemik is, word die belangstelling van die kritiese kyker op hierdie manier geprikkel. Dit is duidelik dat hierdie reeks jou aan die raai sal hou en dit baie moeilik maak om te voorspel wat volgende gaan gebeur.”

Waar fantasie en werklikheid ontmoet

Die storie wat GoT vertel is baie ingewikkeld, en sluit ’n ryk geskiedenis van gevalle konings en koninkryke in. Deur die storielyn stadig en doelbewus bekend te stel, bly die intelligente kyker se belangstelling om die storie en die oorsprong daarvan te verstaan, behoue.

Die karakters word uitgebeeld vir wie hulle werklik is. Die goeie persoon het swak eienskappe, byvoorbeeld Ned Stark wat dinge vir sy vrou wegsteek. Net so ook het die swakkes ook goeie eienskappe, byvoorbeeld die konkelaar, Tyrion, wat op die ou end ‘n gunstelingkarakter word.

Phil sê dit is nog ’n reël wat die kyker ongemaklik maak en ’n nuwe vlak van betrokkenheid meebring. “Dit bring ʼn balans tussen fantasie en die werklikheid, waar al die karakters nie nét goed of nét sleg is nie.”

ʼn Mengelmoes van genres

“Vir ’n fliek of reeks om binne ’n sekere genre te val, moet dit sekere elemente bevat,” verduidelik Phil. “GoT het verskeie elemente oor verskillende genres heen.”

Hy glo die reeks hoort primêr onder die fantasie-genre, maar is beslis ook verwant aan genres wat raakpunte het met drama, Middeleeue, oorlog, romanse, gruwel, geskiedenis, volwasse- en rillerproduksies.

Phil glo dat om elemente van al hierdie verskillende genres te gebruik, die reeks tot ’n baie groter gehoor spreek, en die kyker oorhaal om vir nog ’n episode terug te keer. Al geniet die kyker nie elke toneel nie, bevat elke episode steeds genoeg bevredigende kykstof.

Vanwaar die bohaai?

Phil reken die helfte van die sukses van die reeks is te danke aan die ophef wat daaroor gemaak word. “Die invloed van sosiale media en portuurdruk speel ’n geweldige rol in die sukses van die reeks,” sê hy.

Die tyd tussen die seisoene het langer geword, en laat die kyker wag en wonder wat volgende gaan gebeur, Sedert die laaste episode van seisoen sewe reeds in 2017 uitgesaai is, hou meemgrappe en teorieë wat op sosiale media die rondte doen, beslis die reeks op die gewildheidsagenda. “Portuurdruk is beslis deel daarvan,” sê Phil. “Almal kyk dit, daarom durf jy dit nie mis nie!”

Sy voorspellings

Hoewel hy huiwerig is om enige voorspellings te maak oor wie uiteindelik die Ystertroon gaan bestyg, hoop Phil dat Jon Snow se morele waardes en sy geloof in reg en geregtigheid vir hom ’n mate van oorwinning sal verseker.

Die reeks het egter bekend geword vir die skokelemente wat aangewend word, daarom glo Phil dat dit baie moeilik is om enige voorspellings te waag. “Daar is letterlik honderde moontlike eindes, waarvan een is dat Jon Snow die troon sal bestyg. Ek dink egter dat hierdie einde nie so gewild sal wees by die kykers nie,” sê Phil.

Hy meen dat enigeen van die Lannisters ’n goeie raaiskoot kan wees, met Tyrion ’n besliste gunsteling, en so ook Bran of Arya. “Die moontlikheid dat die ‘Night King’ se karakter sal ontwikkel en een of ander alliansie sal blootlê waarvan die kyker nie weet nie, kan ook nie uitgeskakel word nie,” spekuleer hy.

“Ek sien uit na die res van die reeks. Die produksiespan het ’n paar interessante produksietegnieke en asemrowende spesiale effekte gebruik om werklik iets te skep wat die kyker sal bybly lank nadat die erkennings vir die laaste keer oor die skerm gerol het.”

 
Phil Pretorius saam met van die film memorabilia in die kleurvolle kantoor waar hy sy navorsing doen.

Meer oor die kundige

Phil Pretorius het sy BA-graad in kommunikasie en sy honneursgraad in visuele studies en bemarkingskommunikasie by die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit voltooi.

Hy het daarna sy meestersgraad met die titel “Popular Culture and the Narrative: The case of the James Bond 007 films” aan die Universiteit van Johannesburg verwerf.

Phil het by verskeie instellings klasgegee, wat Monash SA, Bond Universiteit, AAA School of Advertising, Boston City Campus, die Universiteit van Pretoria en die Vaal Universiteit van Tegnologie insluit. Hy is tans ’n dosent by die Skool vir Kommunikasiestudies op die NWU se kampus in Vanderbijlpark, en werk aan sy PhD wat op karakterontwikkeling fokus.

Submitted on Thu, 04/25/2019 - 15:12