Fort Fanie ’n opslagplek van punte vir die NWU Eagles

Die NWU Eagles se haakplekkie teen die Shimlas ’n week gelede is op Maandag 11 Maart by die Fanie du Toit Sportterrein met ’n verkwikkende sakvol punte teen Wits opgevolg.

Die Eagles het Potchefstroom laat skitter met sewe drieë teen die besoekers van Johannesburg vir ’n dawerende 51-22-oorwinning om voorlopig die herinnering aan hulle 35-26-nederlaag in Bloemfontein uit te wis.

Dit beteken dat die Eagles drie van hulle eerste vier wedstryde in die 2024 Varsitybekerkompetisie gewen het, en nou die tweede plek op die algehele punteleer, net agter die Shimlas, beklee. Die hele boonste kwartet op die punteleer het elkeen net een wedstryd verloor.

Die Eagles het geen tyd verspil nie en vinnig 23 punte opgestapel, sonder enige teenprestasie van hulle opponente. Alle eer gaan egter aan Wits, wat daarin geslaag het om terug te baklei. Teen rustyd het die agterstand tot 30-22 gekrimp.

Dit was toe waar Wits vasgeval het.

Drie drieë deur die NWU Eagles en staatmakerverdediging het beteken dat die twee helfte eenrigtingverkeer was – en die tuisspan kon juig.

Die losvoorspeler Marvelous Mashimbyi is as FNB Player that Rocks benoem, hoewel dit altyd moeilik is om individue in so ’n uitmuntende vertoning uit te sonder.

Die Eagles kom op 18 Maart om 19:00 in Johannesburg teen UJ te staan. Die wedstryd sal egter nie lewendig uitgesaai word nie.

Submitted on Wed, 03/13/2024 - 11:29