Die Program vir Forensiese Rekenmeesterskap van die Noordwes-Universiteit (NWU) het die grootste groep forensiese kundiges in Suid-Afrika wat voltyds by die program werksaam is.
Die Program vir Forensiese Rekenmeesterskap van die NWU is enig in sy soort.
Die program is ’n lewensaar in die bekamping van bedrog en korrupsie.
Dit is onbetwisbaar: Bedrog en korrupsie vier hoogty in Suid-Afrika. Die land gaan gebuk onder kriminele misdrywe, en witboordjiemisdaad is een van die jakkalse wat kos uit burgers se monde steel. Die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS) berig dat daar in 2024 ’n 32%-verhoging in bedrogsake was, en hierdie tendens toon ’n kommerwekkende, jare lange opwaartse kurwe. Daarbenewens toon die Corruption Perceptions Index (CPI) van Transparency International dat Suid-Afrika nou die 83ste plek uit 180 nasies beklee, met ’n punt van 41 uit 100. Dit voorspel rampspoed vir die land se langtermyn- ekonomiese vooruitsig.
Die publiek word aan hulleself oorgelaat, en wettelose skerpskutters het toenemend wetsgehoorsames in hulle visier. Hekwagters en bewakers is nodig, en dit is hier waar die NWU se Program vir Forensiese Rekenmeesterskap swaargeskutartillerie in die geveg teen korrupsie bied.
“Die Program vir Forensiese Rekenmeesterskap van die NWU is enig in sy soort. Ons is tans die enigste instelling in Suid-Afrika wat ’n BCom, BComHons, MCom en PhD in Forensiese Rekenmeesterskap bied. Ons program speel ’n noodsaaklike rol in die opleiding van forensiese rekenmeesters en ondersoekers van bedrog in Suid-Afrika. As daar in ag geneem word dat handelsmisdaad in Suid-Afrika deur verskeie internasionale instansies as ‘pandemies’ beskou word, veral na aanleiding van staatskaping en ander nasionale skandale, is dit duidelik dat ons program ’n lewensaar in die bekamping van bedrog en korrupsie is,” verduidelik prof Heleen Janse van Vuuren, direkteur van die Skool vir Rekeningkundige Wetenskappe aan die NWU.
Volgens prof Nico van der Merwe het die Program vir Forensiese Rekenmeesterskap van die NWU die grootste groep forensiese kundiges in Suid-Afrika wat voltyds by die program werksaam is: “Ons lektore en navorsers is kundiges op verskeie gebiede van forensiese rekenmeesterskap, insluitend rekeningkunde, forensiese inligtingstegnologie, regte, ondersoeke en menslike gedrag (wat kriminologie en forensiese ondervraging insluit). Voornemende studente sal dus leiding van vooraanstaande kenners – met praktiese ervaring en akademiese kennis – ontvang. Die MCom en PhD in Forensiese Rekenmeesterskap baan die weg vir ’n loopbaan in forensiese navorsing, ondersoeke en forensiese beleidbepaling.”
Wat Forensiese Rekenmeesterskap se nagraadse program betref, sê dr Constant van Graan, senior dosent en programleier vir Forensiese Rekenmeesterskap: “Die MCom in Forensiese Rekenmeesterskap behels ’n voltydse, volle verhandeling en die PhD is ’n proefskrif – albei oor ’n onderwerp in forensiese rekeningkunde. Voornemende studente met ’n honneursgraad in Forensiese Rekenmeesterskap, ’n kwalifikasie en agtergrond in regte en geoktrooieerde rekenmeesterskap (GR), of iemand wat ’n GR is met beduidende ervaring in forensiese ondersoeke, kwalifiseer om vir hierdie MCom aansoek te doen. Ná die suksesvolle afhandeling van die MCom, kan studente vir die PhD inskryf. Alle aansoeke is aan die beskikbaarheid van studieleiers en promotors onderhewig.”
Die Program vir Forensiese Rekenemeesterskap is dinamies en het verskeie unieke projekte, wat die volgende insluit:
- ’n Jaarlikse forensiese rekeningkunde-toer waar voorgraadse forensiese rekeningkunde-studente internasionale rolspelers besoek om eerstehandse kennis op te doen en netwerke te bou. Ons studente was onlangs in Londen, en daar is tans ’n groep in Mauritius.
- Die BComHons in Forensiese Rekenmeesterskap het ’n unieke ondersoek-simulasie, waar studente forensiese firmas tot stand bring en ’n volskaalse fiktiewe ondersoek loods. Dit sluit die volgende in: die ondervraging van ooggetuies en verdagtes, die deursoeking van en beslaglegging op die verdagte se huis/perseel, en die skryf van ’n forensiese verslag. Die studente getuig aan die einde van die ondersoek in ’n strafregtelike verhoor voor ’n landdros en twee aanklaers. Op hierdie wyse kry hulle praktiese blootstelling voordat hulle in die praktyk begin werk.
- Samewerking met sielkundiges van die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP), wat honneursgraadstudente in ondervragingstegnieke oplei.
- Die grootste groep forensiese navorsers wat in gerekende, internasionale akademiese tydskrifte publiseer.
- ’n Aktiewe program om voorgraadse en honneursgraadstudente aan voornemende werkgewers bloot te stel. Dit sluit ’n volwaardige Forensiese Rekenmeesterskap Loopbaandag in, waar van die land se voorste forensiese firmas in Potchefstroom saamtrek en bande bou met studente vir moontlike indiensneming na afloop van hulle studies.
Deur hulle baanbrekerswerk, navorsing van die hoogste gehalte en die lewering van studente bewapen met die vermoë om ’n daadwerklike verskil in die land se vooruitsig te maak, het die NWU se Program vir Forensiese Rekenmeesterskap nou booswigte in hulle visier, gereed om onregmatighede met akkuraatheid op te spoor en aan die kaak te stel. Dit alles begin hier.