Fakulteit staan gesin by ná verwoestende brand

Die personeel van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het hulle harte oopgemaak vir ’n gesin wat feitlik al hulle besittings in ’n verwoestende huisbrand in Mahikeng verloor het.

Die brand, wat in die laaste week van Mei uitgebreek het, het feitlik die hele HOP-huis in Danville, Wyk 17 in puin gelê, en het ’n enkelma en haar twee kinders getraumatiseer en met ’n dringende behoefte aan hulp gelaat.

Volgens ’n verteenwoordiger van die fakulteit is die gesin se nood deur pastoor Steven van Rooyen, ’n plaaslike predikant in Mahikeng, onder hulle aandag gebring. Hy het die hartverskeurende omstandighede waarin die Louw-gesin hulleself ná die brand bevind het, verduidelik, en gemeld dat die meeste van die gesin se meubels, gordyne en klere vernietig is. Nadat daar na prof Ntebo Moroke (adjunkdekaan), dr Kezell Klinck (gemeenskapsbetrokkenheid-sameroeper) en dr Martin Chanza (gemeenskapsbetrokkenheidskoördineerder) uitgereik is, het die fakulteit, tesame met pastoor Van Rooyen, ’n skenkingsveldtog geloods om die gesin in hulle tyd van nood by te staan.

Die fakulteit het nie net die gesin met noodsaaklikhede soos kospakkies, warm komberse en klere gehelp nie, maar met behulp van gemeenskapsamewerking was dit ook moontlik om die gebreekte ruite te vervang, die mure weer te verf en broodnodige huishoudelike items bymekaar te kry.

 “As ’n mens kyk na hoe almal wat betrokke was die geleentheid aangegryp het om ’n verskil te maak en hierdie gesin te help, is dit duidelik dat die NWU se verbintenis tot ’n sorgsaamheidsetiek baie meer as blote lippetaal is,” sê prof Moroke, en voeg by dat hy baie trots is op die manier waarop die fakulteitslede en die gemeenskap saamgestaan het om ’n impak te maak.

 

Agter, van links: Dr Kezell Klinck en dr Martin Chanza. Voor is me Merlyn Louw, die huiseienaar.

 

 

Submitted on Wed, 06/24/2020 - 14:20