Fakulteit Regte bied konferensie vir Suider-Afrikaanse regsdosente aan

Die Suider-Afrikaanse samelewing is steeds besig om ’n magdom uitdagings te trotseer. Hoë vlakke van armoede en werkloosheid, onvoldoende infrastruktuur en elektrisiteitsvoorsiening, misdaad en stygende vlakke van korrupsie, en al die verskillende nalatenskappe van kolonialisme en apartheid dra alles by tot die giftige mengsel wat lewens en heenkomes bedreig.

Om dit te bestry, maak die Suider-Afrikaanse streek staat op regstelsels wat goed funksioneer en regverdig is sodat antwoorde wat maatskaplik regverdig is vir hierdie struikelblokke gevind kan word.

Die doel van die konferensie vir Suider-Afrikaanse regsdosente wat deur die Fakulteit Regte van die Noordwes-Universiteit (NWU) aangebied word, is om innoverende en praktiese maniere te vind waarop mense – deur die regstelsel – veerkragtigheid en maatskaplike geregtigheid in ’n immerveranderende wêreld kan bou.

Met sessies op verskillende regsgebiede, wat wissel van onder andere konstitusionele, gebruiklike en privaat, omgewings- en kuberreg tot regsopvoeding, beloof die konferensie om hierdie wesenlike kwessies te ondersoek en kundige insigte deur die tema, Law, Resilience and Social Justice in the 21st Century, te verskaf.

“Ons beskou die konferensie as ’n wonderlike geleentheid om ’n bydrae te lewer om ekonomiese, rasse- en maatskaplike geregtigheid vir almal te verkry,” sê dr Neo Morei, uitvoerende dekaan van die Fakulteit Regte.

Die konferensie van die vereniging vir Suider-Afrikaanse regsdosente vind vanaf 15 tot 19 Januarie by die Sun City-konvensiesentrum plaas en sal verskillende spesialiste, lede van die regsgemeenskap en dosente op die gebied van die regte van groot universiteite byeenbring.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan SALTC2024@nwu.ac.za.

Submitted on Wed, 01/10/2024 - 13:06