Fakulteit poog om eerstejaarpaniek hok te slaan

Dis waar: om ʼn eerstejaarstudent by ʼn universiteit te wees, kan een van die mees opwindende, maar stresvolste oorgange wees wat ʼn jongmens kan ervaar! Dit is daarom bloot natuurlik dat jy dalk oorweldig sal voel deur jou nuwe omgewing, die verantwoordelikhede geassosieer met persoonlike vryheid en die druk wat daarmee gepaard gaan.

In die lig hiervan het die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe op die kampus in Vanderbijlpark onlangs ʼn intervensieprogram geloods om eerstejaarstudente te bemagtig deur ʼn akademiese en sosiale ondersteuningsnetwerk bekend te stel.

Die intervensie – gedoop die First Generation Project – is as deel van ʼn loodsprojek in werking gestel. Volgens die koördineerder, Kgomotso Malinga, het die sukses van die intervensie daartoe gelei dat die projek eersdaags op die kampusse in Mahikeng en Potchefstroom geïmplementeer sal word.

Kgomotso sê die projek spruit voort uit die uitkomste van verskeie fokusgroepe wat met die nuwe inname van eerstejaarstudente gedurende die jaarlikse Registrasie, Oriëntasie en Ontvangs (ROO) week gehou is.

Gedurende hierdie sessies het baie nuwe eerstejaarstudente aangedui dat hulle oorweldig voel en dit daarom moeilik vind om hulle weg in hulle nuwe omgewing te vind – beide op sosiale en akademiese vlak. 

“Gedurende die fokusgroepe het die studente aangedui dat hulle bang is dat hulle sal druip en hulle ouers teleurstel,” vertel Kgomotso. Sy voeg by dat die studente ook bekommerd was oor aspekte soos tydsbestuur, die impak van stres, begrotings en hoe hulle onder druk sal presteer.

Meer oor die First Generation Project

Gedurende die onlangse projekwerkswinkels, is vyf onderwerpe deeglik bespreek:

  1. Die hantering van mislukking en die aankweek van ʼn wenhouding.
  2. Die belangrikheid van effektiewe verhoudingsbestuur.
  3. Die betuur van ʼn begroting en finansies.
  4. Hoe om kalm te bly en in stresvolle situasies te floreer.
  5. Effektiewe tydsbestuur en ʼn werk-lewe-balans.

Volgens Kgomoso sal die eerstejaarstudente in die volgende fase van die projek in pare met senior studente in die fakulteit ingedeel word vir een-tot-een mentorskapsessies. Hierdie mentors – almal lede van die Skool vir Bedryfsielkunde en Mensehulpbronbestuur – sal die eerstejaars van akademiese en sosiale ondersteuning voorsien.

“Na aanleiding van die terugvoering wat ons ná die werkswinkels ontvang het, is ek bly om te kan sê dat die studente die intervensie waardeer en daarby baat gevind het,” sê Kgomotso. Sy voeg by dat die studente nou die eise wat saam met universiteitstudent-wees kom, ten volle verstaan.

“Deur middel van die werkswinkels en mentorskapsessies glo ons dat die studente minder oorweldig sal voel en meer emosionele reserwes sal hê om ander stres te kan oorkom. Nadat hulle deur hierdie vrese en persepsies gewerk het, kan die studente nou die studentelewe ten volle geniet,” verduidelik Kgomotso.

Kgomotso Malinga.

 

 

 

 

Submitted on Mon, 05/06/2019 - 10:50