Fakulteit Gesondheidswetenskappe skitter by die SACCMA 2023 Konferensie

’n Afvaardiging van die NWU het onlangs op die konferensie van die Vereniging vir Gevorderde Selkultuurmodellering vir Afrika (Society for Advanced Cell Culture Modelling for Africa, SACCMA) wat deur die Fakulteit Gesondheidswetenskappe van die Noordwes-Universiteit (NWU) georganiseer is, ’n betekenisvolle impak op die plaaslike sowel as die internasionale verhoog gemaak. Ten spyte daarvan dat dit hierdie jaar ’n kleiner konferensie was, het die fakulteit 91 geregistreerde afgevaardigdes en 10 uitstallers verwelkom, wat ’n aanduiding is van die toenemende belangstelling in en belangrikheid van hierdie navorsingsgeboied. Die konferensie het afgevaardigdes van lande soos Mauritius, die VSA, Denemarke, Nederland, Swede en Frankryk gelok. Aktiewe deelname van plaaslike instellings soos die Universiteit van Pretoria, Wits, die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van Wes-Kaapland, die Vaal Universiteit van Tegnologie en die WNNR is ook verwelkom.

NWU-fakulteitslede prof Lissinda du Plessis, Alandi van Niekerk (PhD-student), prof Krzysztof Wrzesinski (met ’n buitengewone aanstelling) en prof Chrisna Gouws het referate by die konferensie gelewer en was ’n bewys van die diepte van bydrae ten opsigte van kundigheid en navorsing van die NWU. Me Van Niekerk, ’n belowende PhD-student by die fakulteit, het ook ’n plakkaat by die gebeurtenis aangebied, en die innoverende navorsing beklemtoon wat die NWU doen.

Terugvoer van konferensiegangers was oorweldigend positief, met afgevaardigdes wat gesê het dat hulle baie graag aan die volgende konferensie in 2025 wil deelneem. Die oorkoepelende tema van die konferensie het gefokus op die implementering van gevorderde selkultuurmodelle in navorsing, en getoon watter toenemende belangstelling daar op die gebied is. Instellings soos die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Pretoria, die Vaal Universiteit van Tegnologie en die Universiteit van die Vrystaat het gesê dat hulle belangstel om ’n vennootskap met die NWU te vorm om hulle navorsing met die gebruik van 3D-selkultuurtegnologiekundigheid in PharMaCen uit te brei – ’n vooruitsig van opwindende navorsingsamewerkings in die toekoms.

Prof Chrisna Gouws is ook uitgenooi om saam te werk aan ’n befondsingsaansoek by die EU wat kanker-sferoïed- en biodrukwerktegnologie behels, en die internasionale erkenning van die NWU se vermoëns op hierdie gebied toon. Prof Gouws is voorts herkies as die voorsitter van die uitvoerende komitee vir SACCMA. Dit beklemtoon werklik die leiersrol wat die NWU in die bevordering van selkultuurmodelle in Afrika speel.

Die Fakulteit Gesondheidswetenskappe is trots op hierdie prestasies en dankbaar vir die ondersteuning van sy lede. Hulle bydraes gaan voort om die gebied te bevorder en versterk Suid-Afrika se teenwoordigheid daar. Met suksesvolle aanbiedings, produktiewe samewerkings en internasionale erkenning, gaan die NWU voort om innovasie in gevorderde selkultuurmodelle te bevorder en ’n positiewe impak op die wetenskaplike gemeenskap te maak.

....

 Afgevaardigdes wat die konferensie van die Vereniging vir Gevorderde Selkultuurmodellering vir Afrika bygewoon het.

Submitted on Fri, 10/27/2023 - 14:10