Facing Race Week 2023: Fakulteit Gesondheidswetenskappe dink na oor hoe belangrik dit is om ’n mens se visie uit te bre

Die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe het onlangs onder leiding van prof Sanette Brits haar visie gedeel en ’n inspirerende Facing Race Week gehou. Dit is ’n spesiale inisiatief om ’n bewustheid van ras te kweek, inklusiwiteit te bevorder en diversiteit te vier. Hierdie week lange gebeurtenis wentel elke jaar rondom ’n sentrale tema, en hierdie jaar se tema was Verbreed jou visie; waardeer diversiteit (Expand your vision; appreciate diversity).

Die beduidendheid van die tema is versterk deur die gebruik van ’n kragtige analogie uit die oftalmologie. In mediese terme het individue met miopie (bysiendheid) langer oogballe as die gemiddelde persoon, terwyl diegene met hiperopie (versiendheid) korter oogballe as die gemiddelde persoon het. Hierdie toestande ontwrig normale visie en dit vereis die gebruik van korrektiewe lense om die fokuspunt aan te pas sodat iemand duidelik kan sien.

In die konteks van ras en diversiteit kan bysiendheid (of kortsigtigheid) geïnterpreteer word as die neiging om net aandag aan jou onmiddellike omgewing te gee, wat tot gevolg het dat jou begrip en waardering vir die diverse gemeenskappe daarbuite beperk word. Aan die ander kant verteenwoordig versiendheid die neiging om slegs op die veraf gemeenskappe te fokus en so die rykdom en diversiteit binne jou eie groep te verwaarloos.

Die analogie strek verder om oogsiektes in te sluit. Gloukoom is die uitermate opbou van druk binne die oog, wat die optiese senuwee kan beskadig en tot uiteindelike blindheid kan lei. Net so kan die druk van konflik en rassespanning in ons samelewing ons visie beperk en ons waarnemings verdraai. Om veroordelende opinies oor ander te koester, kan vergelyk word met katarakte wat oor tyd heen vorm, en ons vermoë beperk om diversiteit te waardeer. Die gevolg is figuurlike blindheid, wat daartoe lei dat ons die waarde en diversiteit uit die oog verloor wat ’n verskeidenheid in ons lewens en ons gemeenskappe bring. Uiteindelik kan ons onwetend ons visie irriteer, amper soos met konjunktivitis, deurdat ons alles wat ons lees en hoor aanvaar sonder om dit te bevraagteken – veral in hierdie era van inligtingoorlading en oombliklike nuusdekking. Om dit te herstel, moet ons inligting verifieer en krities wees wanneer ons besluit waarop ons ons menings en ons reaksies bou.

Die onderliggende boodskap van Facing Race Week is om daadwerklik op te tree: verruim jou visie; waardeer diversiteit. Dit moedig ons aan om ons vooropgestelde idees en perspektiewe uit te daag; om uiteenlopende ervarings, kulture en perspektiewe te soek en daarmee om te gaan. Op hierdie manier kan ons ’n beter begrip van mekaar ontwikkel en die rykdom omhels wat uit ons verskille voorspruit.

Verskeie geleenthede en aktiwiteite is regdeur die week aangebied om dialoog te fasiliteer, nadenke aan te moedig en ware interaksie te bevorder. Die week het ’n veilige ruimte vir oop gesprekke en deurdagte interaksie verskaf en so ’n omgewing van inklusiwiteit en respek geskep.

Facing Race Week het die weg gebaan vir voortgesette inisiatiewe en gesprekke wat ons na ’n toekoms kan lei waar diversiteit omarm word en inklusiwiteit die basis van ons optrede kan vorm.

Submitted on Tue, 07/25/2023 - 12:53