EWP 2019: jou NWU-entrepreneursreis begin hier

Indien Suid-Afrika die Nasionale Ontwikkelingsplan se teiken wil bereik om teen 2030 elf miljoen poste te skep, moet entrepreneurskap – veral onder vroue – aangemoedig word. Ten opsigte hiervan neem die Noordwes-Universiteit (NWU) leiding om entrepreneurskap deur middel van sy jaarlikse Ondernemende Vroue-program (EWP) te bevorder.

Dit is hierdie jaar die sewende keer dat hierdie besondere program deur die NWU se bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (bhive EDC) op die kampus in Vanderbijlpark aangebied word. Die program het tot dusver byna 100 suksesvolle vroulike entrepreneurs in die Vanderbijlparkstreek bemagtig.

’n Bewese prestasierekord

Beginner- vroulike entrepreneurs word deur hierdie program bemagtig om nie slegs hulle besigheidsdrome waar te maak nie, maar ook om aktief tot die plaaslike en nasionale ekonomie by te dra.

Die program het oor die afgelope sewe jaar vroulike entrepreneurs in staat gestel om baanbrekers op talle gebiede te wees, soos in toep-ontwikkeling, spyseniering, in die konstruksiebedryf, mode-ontwerp, binnenshuise versiering, asook instandhoudingsbestuur. Ander het unieke produkte ontwikkel en bekendgestel om vir verskillende nismarkte voorsiening te maak. Voorbeelde sluit in ’n ekovriendelike mobiele motorwasdiens vir groot besighede, die verwerking van plastieksakke tot ontwerpermatte vir die toerismebedryf, en selfs ’n taksidermiediens wat nommerpas vir die wild- en jagbedryf is.

Verskeie van die deelnemers aan hierdie program verskaf nou werk aan ander vroue in hulle onderskeie gemeenskappe en neem selfs jongmense as interns in diens, en wys en leer hulle die krag van entrepreneurskap.

’n Voetspoor wat uitbrei

As gevolg van die sukses van die program gaan die EWP ook van nou af programme in Mahikeng en Potchefstroom aanbied.

Volgens Leonie Greyling, die EWP-koördineerder, lê die sukses van die program daarin dat dit intydse sake-ondersteuningsdienste aan vroue gee wat hulle eie ondernemings wil vestig. Deelnemers word deur ’n omvattende kurrikulum geneem om hulle te help om besigheidsidees en markte te identifiseer, ’n goeie besigheidsmodel te ontwikkel, en uiteindelik hulle eie beginneronderneming suksesvol te inisieer.

Tydens die proses word vroue nie net deel van ’n dinamiese portuurnetwerk nie, maar ontvang ook mentorskap van ervare entrepreneurs en kundige lede van die akademie. “Die program verskaf aan vroue die geleentheid om hulle entrepreneurspogings vryelik te ondersoek, terwyl hulle terselfdertyd die voordele van gestruktureerde leer deur werkswinkels en groepgesentreerde leeraktiwiteite geniet,” verduidelik Leonie.

Doen vandag nog aansoek en begin jou entrepreneursreis

Aansoeke vir die jaarlikse Vaal- en Sasolburginname van die program word tans ingewag. Vroue wat belangstel om aan hierdie kortleerprogram deel te neem, moet op die volgende kriteria let:

  • Die program loop vir ses maande en deelnemers moet vier voldagwerkswinkels per maand bywoon.
  • ’n Minimum van ’n graad 12-kwalifikasie is nodig, asook ’n goeie geskrewe en gesproke begrip van Engels.
  • Alle deelnemers moet rekenaarvaardig wees en toegang tot e-pos en WhatsApp hê.
  • ’n Verbintenisdeposito van R1 500 is teen die einde van Februarie betaalbaar as jy gekeur word.

Vir meer inligting besoek Facebook of die bhive EDC se webblad, of jy kan vir Annelie Steenkamp by 016 910 3393 skakel vir meer inligting.

* Die bhive EDC verteenwoordig ’n dinamiese spil van entrepreneursaktiwiteit in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. 

Leonie Greyling,EWP-koördineerder.

 

 

 

 

  

Submitted on Mon, 02/11/2019 - 14:50