ESKOM Wetenskapekspo: Koester jong innoveerders

Die ESKOM Wetenskapekspo is ’n streekskompetisie wat met trots deur die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe en die Departement van Onderwys geborg word. Die Dr Kenneth Kaunda distriksmunisipaliteit was onlangs die gasheer vir hierdie jaar se gebeurtenis, wat in die Weet en Sweet-saal op die NWU se Potchefstroomkampus gehou is.

Hierdie jaarlikse gebeurtenis dien as platform vir jong wetenskaplikes van laer- en hoërskole om hulle innoverende navorsing op die gebied van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM) aan te bied.

Daarbenewens is die ESKOM Wetenskapekspo meer as bloot ’n kompetisie – dit bied aan jong denkers die geleentheid om hulle belangstelling in STEM-verwante vakke te ondersoek en hulle kreatiewe denke en probleemoplossingsvaardighede te toon. Die ekspo gee aan hierdie jong leerders die kans om te hoor wat die beoordelaars – wat kundiges op hulle gebied is – te sê het. Kundiges van die Departement van Onderwys en die NWU was die paneel beoordelaars, en het verseker dat die jong wetenskaplikes se pogings deeglik geëvalueer is.

Ná die beoordeling het ’n langverwagte prysoorhandigingseremonie plaasgevind waar die jong wetenskaplikes se pogings beloon is. Die wenners van die streekskompetisie het die kans gekry om aan die nasionale kompetisie deel te neem, waar hulle teen die beste jong wetenskaplikes in die land te staan gekom het. Die nasionale wenners sal die eer ontvang om die land op ’n internasionale vlak te verteenwoordig.

Die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe het ’n beduidende bydrae tot die leerervaring van die deelnemers gelewer. Hulle het kampustoere gereël wat die leerders in staat gestel het om die wonderlike geboue soos die Geologie Museum en die Wetenskapsentrum te sien. Sulke toere gee aan die leerders ’n kykie op die wêreld van hoër onderwys en moedig hulle aan om hulle studies in STEM-verwante dissiplines voort te sit.

Al die ander fakulteite by die NWU het saam met die Departement van Bemarking en Studentewerwing ook aan die ESKOM Wetenskapekspo deelgeneem. Voornemende studente kon by stalletjies wat buite die lokaal opgerig is met universiteitsverteenwoordigers praat. Hierdie inisiatief het aan leerders insig in die talle akademiese opsies gegee en het nuttige loopbaanadvies verskaf. Om jong leerders te help om ingeligte keuses oor hulle toekomstige onderrig te maak, is brosjures oor verskillende programme ook verskaf.

Terwyl ons tyd inruim om na te dink oor hoe goed dit gegaan het, wil ons ons dankbaarheid uitspreek teenoor al die mense en organisasies wat ’n bydrae gelewer het om hierdie jaar se geleentheid ’n groot sukses te maak. Hulle moet geloof word vir hulle toewyding om die volgende geslag wetenskaplikes te koester, wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van wetenskap en tegnologie in Suid-Afrika.

 

Submitted on Fri, 09/29/2023 - 08:37