Enkellopend en mal daaroor: Hoe om bemarking aan die toenemende groep enkellopendes te doen

Die kerngesin van toeka, die naoorlogse kinders, die verkwisters van Gen-X, die meer sosiaal-verligte die Gen-Y’s en die digitaal-afhanklike millenniërs, staan opsy: enkellopendes (singletons) is nou baas van die kommersiële plaas!

Namate die term “gesin” geëvolueer, aangepas en verander het, het die gesinslede ook wat eens op ’n tyd deel van bogenoemde argaïese nomenklatuur was.  

Die enkellopende individu is glad nie meer ’n sosiale anomalie nie. Sogenaamde enkelinge (singletons) raak toenemend die norm. Hulle is ’n gesin van een en hulle beursies het hulle eie unieke behoeftes.  

’n Onlangse studie deur dr Roland Goldberg en sy navorsingspan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) bewys dit onteenseglik. Die doel van die studie was om ’n leefstylontleding te doen van die verbruikersegment van enkelinge in Suid-Afrika om bemarkers in staat te stel om doeltreffende bemarkingstrategieë te ontwerp wat by die aktiwiteite, belangstellings en menings van enkelinge pas.  

Volgens hulle artikel, getitel A lifestyle analysis of the Singletons consumer segment in South Africa, het die getal enkelinghuishoudings regoor die wêreld toegeneem. Daar is talle faktore wat tot hierdie verskynsel bydra, insluitende hoër egskeidingskoerse, die toename in werksgeleenthede vir vroue in die korporatiewe sektor, die verval van tradisionele huishoudings en geleenthede vir verdere onderwys, loopbaanbevordering en die behoefte om finansieel meer buigsaam te wees.

Met meer as sewe miljoen enkelpersoonhuishoudings in Engeland en Wallis – met ’n geprojekteerde groei van 70% teen 2026 – en meer as 50% van die Verenigde State se bevolking wat oor die ouderdom van 18 jaar is, is enkelinge ’n geweldige groot deel van die wêreldwye verbruikersdemografie. Daarbenewens is Suid-Afrika as een van die lande geïdentifiseer wat beduidende groei in enkelpersoonhuishoudings ervaar, met meer as ’n kwart van die land se bevolking wat alleen woon.

Die resultate van die studie deur Goldberg en sy span dui aan dat enkelinge ’n matige lae vlak van modebewustheid het, terwyl hulle matig hoë vlakke van kostebewustheid, gesondheidsbewustheid, ontspanning, e-koopvoorkeure en ’n loopbaaningesteldheid het.

Bemarkers moet dus op die waarde van hulle produkte fokus en die prys van die produk onderbeklemtoon as die produk duur is. Bemarkers moet daarna streef om enkelinge te oortuig dat hulle produkte die prys werd is.

Aansporingsmiddels soos koepons om winskopies by kostebewuste enkelinge te bevorder, is noodsaaklik.  Bemarkers moet ook die gesondheidsvoordele van hulle produkte en dienste beklemtoon. As gevolg van enkelinge se matig hoë vlakke van ’n loopbaaningesteldheid, moet bemarkers loopbaan-georiënteerde geleenthede en funksies soos netwerkgeleenthede en seminare aanbied.

Dan is daar e-inkopies. As gevolg van enkelinge se voorkeur vir aanlyn aankope, moet bemarkers en organisasies verseker dat hulle produkte en dienste wat op enkelinge gerig is net ’n klik of wat ver is.

In ons binêre wêreld was “1” nog nooit so belangriker vir bemarkers nie. Nul is die alternatief.   

Submitted on Fri, 03/19/2021 - 13:23