Die styging in die jaarlikse verbruikersprysinflasie van 7,0% tot 7,1% in Maart was strydig met die markverwagtings, wat was dat die verbruikersprysindeks (VPI) moontlik teen nou ’n matige afname tot ongeveer 6,7% kon getoon het.
Volgens prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, is voedselpryse die vernaamste probleem. “Die koers van inflasie teen 7,1% bly dus ver bokant die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se teikenstrek van 3% tot 6%.”
Hy sê dat aangesien verskeie ontleders reeds ’n verdere styging van 25 basispunte (bsp) in die rentekoers by die volgende vergadering van die monetêrebeleidskomitee (MBK) in Mei in die vooruitsig stel op grond daarvan dat hulle ’n laer inflasiekoers verwag het, is dit nou selfs meer waarskynlik dat die MBK weer meer aggressief gaan optree.
“Dit moet beskou word teen die agtergrond dat die SARB nou die leenkoste met ’n kumulatiewe 425 bsp verhoog het sedert die siklus vir die styging van rentekoerse in November 2021 begin het. Die repokoers is nou op sy hoogste sedert 2010.”
Prof Parsons sê die MBK sal ook met die evaluering van die ekonomiese data wat by sy naderende Mei-vergadering beskikbaar is – en met hulle besluit oor nóg hoër rentekoerse – ook die oorkoepelende vertragingseffek van vorige rentekoersstygings in ag moet neem. Dit neem gewoonlik 12 tot 18 maande om die volle impak daarvan op die ekonomie te ervaar.
Volgens prof Parsons is hoër leenkoste nie die enigste faktor wat die ekonomiese en sakevooruitsig beïnvloed nie. “Daar is maalkolke aan beide kante, nie net aan een kant nie.”
Hy verduidelik dat die rooi ligte nou ook nog helderder vir Suid-Afrika se groeivooruitsig flits. “Wydverspreide kommer en onsekerheid oor die verdere negatiewe ekonomiese en sake-impak van Eskom se huidige voortslepende vlak 5- en 6-beurtkrag is besig om toe te neem. Die jongste intense beurtkragregime van Eskom het die risiko verhoog dat die ekonomie moontlik nou in ’n tegniese resessie – met ander woorde twee opeenvolgende kwartale van negatiewe groei – verval het. Dit is die kumulatiewe uitkoms van hierdie en ander ontwikkelings in die onlangse verlede.”
Prof Parsons sê die energie-uitdaging is nou nietemin geïdentifiseer as die grootste enkele bedreiging vir Suid-Afrika se ekonomiese prestasie. “Teen die agtergrond van ’n -1,3%-BBP-groei in K4 van 2022, gekombineer met ’n reeks van hoofsaaklik negatiewe hoëfrekwensie- ekonomiese data in K1 van 2023, is dit dus nou moontlik dat die onlangse vernietigende voortslepende kragonderbrekings onvermydelik die balans van risiko’s in Suid-Afrika na ’n tegniese resessie laat oorhel het.”
“Die jongste Nedbank-gids vir die ekonomie sê ook die kanse om ’n tegniese resessie te ervaar, ‘is hoog’. Dit sou die onlangse swak BBP-groeivooruitsig vir 2023 as geheel, byvoorbeeld deur die IMF (0,1%), die SARB (0,2%), Fitch (0,2%) en Nedbank (0,2%), bevestig. Die risiko van ’n ‘stagflasie’-scenario wat aan die kom is, bestaan ook.”
Volgens prof Parsons verleen hierdie scenario’s ’n baie groter dringendheid aan die elektrisiteitsituasie. Die versagting en omkering van die hoogs ontwrigtende koste wat deur aggressiewe beurtkrag op die ekonomie afgedwing word, veral noudat die winter naderkom, vereis dus dringende korttermynmaatreëls wat sal help om beurtkrag tot meer bestuurbare vlakke te beperk in die maande wat voorlê.
“Die korttermynaksieplan om die akute nood van aanhoudende kragonderbrekings te verlig – en wat deur die Minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, belowe is – moet spoedig aangekondig en vinnig geïmplementeer word. Dit sal besighede en verbruikers in staat stel om beter te beplan vir ’n onvermydelike moeilike tydperk wat voorlê.”
Prof Parsons sê daar moet deursigtigheid, en gekoördineerde en deurlopende kommunikasie wees ten opsigte van watter noodmaatreëls getref gaan word sodat die verlies aan vertroue wat tans besighede sowel as verbruikers ernstig affekteer, aan bande gelê kan word.
“Die kwessie van vertroue bly van die grootste belang. Deur vertroue te herstel, is die helfte van die stryd gewen vir beleidsmakers wat ooreengekome oplossings vir die energie-uitdagings in werking stel. Negatiewe tendense kan omgekeer word en ‘stygende getye’ kan versag word indien verstandige oplossings vinnig en doeltreffend in samewerking met die privaat sektor geïmplementeer word.”