Emosionele en sielkundige effek van misdaad is kompleks

Die misdaadsyfers wat Statistieke Suid-Afrika in 2019 vrygestel het, skets ’n somber prentjie. Die meeste Suid-Afrikaners leef in vrees en weet nie of hulle die prooi van misdadigers sal word nie. Slagoffers van gewelddadige misdaad verloor nie net hulle materiële besittings nie, maar kan ook beduidende emosionele en sielkundige trauma opdoen.

Hoewel dit moeilik is om te glo, ervaar sommige misdaadslagoffers egter positiewe groei. Dit was een van die bevindings van Siphiwe Moshugi, ’n meestersgraadstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Siphiwe se studie getiteld “Posttraumatic growth of violent crime victims in a high crime area in South Africa” was daarop gemik om te identifiseer watter faktore misdaadslagoffers in staat stel of verhinder om posttraumatiese groei te ervaar.

Sy het haar navorsing onder leiding van prof Chrizanne van Eeden in die Fakulteit Geesteswetenskappe voltooi.

Die ware prys van misdaad

Siphiwe het met 11 slagoffers van gewelddadige misdaad in die Cosmo City Baptistekerk onderhoude gevoer. “Ek het as gevolg van die hoë vlakke van misdaad wat in die gebied aangemeld word persone gekies wat in Cosmo City woon,” sê sy.

Haar studie het bevind dat hoewel die slagoffers almal onder gewelddadige misdaad deurgeloop het, posttraumatiese groei op verskillende maniere plaasgevind het, met sterk individuele variasies en selfs ’n paar voordele. Sommige deelnemers het gemeld dat hulle ’n dieper besef van hulself ervaar, ’n groter nabyheid in verhoudings met ander, en ’n ander lewensfilosofie.

Gewelddadige misdaad het ’n negatiewe impak op sommige deelnemers gehad, en hulle het verskillende verdedigingsmeganismes gebruik om hul trauma te hanteer. “Sommige deelnemers se groei is verhinder deur ingewikkelde verhoudings wat hulle met ander het, asook skuldgevoelens, ’n gevoel van hulpeloosheid en eensaamheid,” sê Siphiwe.

Sy voeg by dat sommige deelnemers aan die studie herhalende vrees ervaar het wat met die traumavoorval verband hou, en gesukkel het om gevoelens van woede, bitterheid, haat en ’n verlies van vertroue in mense te hanteer. Dit het ook hulle waardering van die lewe verminder.

“Hoewel sommige van die deelnemers steeds met die nadraai van trauma worstel, het hulle betekenisvolle groei ervaar,” sê sy.

ʼn Uitgelate Siphiwe Moshugi nadat sy haar meestersgraad aan die NWU ontvang het.

Submitted on Thu, 01/30/2020 - 12:55