Elsunet du Plessis: Van Heidelberg tot die hoogste vlak

Dit was  vervlaks naby. Té naby. Die NWU Eagles is Sondagmiddag in hulle Varsity Netbal-veldtog teen die uiteindelike wenners, Kovsies, op hartverskeurende wyse met 66–65 in hulle spore gestuit. In die laaste sekondes van die wedstryd. Die héél laaste sekondes. Huil en treur hieroor sal ons nog lank.

Maar wat weereens vanjaar uitgestaan het, was die vernuf van ʼn besonderse individu.   

“Determinasie” is nie net ʼn aaklige anglisisme nie, dit is ook ʼn byvoeglike naamwoord wat te maklik gebruik word om atlete te beskryf. Dit is ʼn lelike woord.

Tog is dit die eerste woord wat opduik wanneer pen op papier gesit moet word oor Elsunet du Plessis, die NWU se hoofnetbalafrigter. Wat dan anders? “Doelgerigtheid” klink afgewater en “beslistheid” val skeef op die oor. Elsunet is sommer net gedetermineerd. Sy was dit nog altyd.

Op die netbalbaan het haar talent en onverskrokke benadering tot die spel haar net soveel ’n derduiwel as ’n toorkunstenaar gemaak. Rondom die net was sy haar teenstanders se nagmerrie, vir spanmaats ʼn droom. Dit is ʼn kombinasie wat van haar ʼn Protea gemaak het.

“Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek was op pad huis toe toe die Proteas se bestuurder, Nisha Rupnarain, my gebel het. Ek het van die pad afgetrek en dit is toe ek hoor dat daar ʼn besering in die groep was en dat ek opgeroep word om Wêreldbeker toe te gaan … dat ek definitief saamgaan Sydney toe. Ek moet sê, ek kon dit aanvanklik nie glo nie, en toe is ek skielik verskriklik opgewonde.” Dit was ʼn Saterdag op die pad tussen Potchefstroom en Heidelberg. ʼn Groot dag wat van ver af kom. “My ma het netbal afgerig toe ek klein was, en so het ek altyd langs die netbalbaan gesit en kyk hoe sy afrig, of ek het daar saam die groter kinders gespeel.”

As Elsunet nie by netbal betrokke is nie, is sy in Heidelberg op haar perd, Style  – ’n Clydesdale-kruising van Skotse afkoms – se rug. Tuis in Potchefstroom is haar genot haar rusbank, ʼn boek, en haar twee worshonde, Ferdinand en Mila. En musiek. Mumford & Sons en Tim McGraw. Country-musiek vir die plaasnooi wat steeds die veld in haar hart het. 

En dan, haar kos – voorgereg, hoofgereg en nagereg vir haar siel – netbal. “Jy deel netbal met ander mense. Jy groei saam met hulle.” Sy lag: “Alhoewel ek eintlik ʼn groot introvert is en baie op my eie is, dink ek dit dwing my om met ander mense om te gaan. Dit help my om as mens te groei en uitdagings vir myself te stel. Sukses word aan spanwerk gemeet en almal het ʼn aandeel daarin.”

As mentor kan sy ook ’n nalatenskap vestig. “As afrigter hou ek daarvan dat ʼn speler hardwerkend en ʼn spanspeler is. Op die ou end doen jy dit nie net vir jouself nie, maar ook vir die persoon langs jou. Ek sê altyd vir my spelers dat as jy jou werk goed doen, die persoon langs jou ook gaan goed lyk. Speel dus só dat die persoon langs jou soos ʼn superster kan lyk.”

Dit geld nie net vir haar spelers nie, maar ook vir die NWU. “Ek wil voortgaan om die kultuur wat besig is om gevestig te word, uit te bou. Ons wil nie net sorg dat daar beter spelers is nie, maar ook beter mense.”

Koersvas boontoe. “Koersvas” is ʼn mooi woord.

 

Submitted on Mon, 09/06/2021 - 09:26