Elroy is steeds die halfmarathon se oorwinnaar

Hy is nie meer die heersende, verdedigende, onbetwiste kampioen van die Twee Oseane-halfmarathon nie. Elroy Gelant styg egter bó bogenoemde beskrywing uit. Nadat die 2020- en 2021-halfmarathons as gevolg van die Covid-19-pandemie geskrap is, moes Gelant op Sondag 17 April 2022 die titel afstaan wat hy in 2019 gewen het. Hy het egter weer eens die deursettingsvermoë en vasberadenheid getoon wat sy buitengewone loopbaan onderskryf. Gelant het die silwermedalje ingepalm, wat ’n wonderlike en uitsonderlike prestasie is wanneer ’n mens in ag neem dat hy in die 2021 Olimpiese Spele in Japan ’n dyspierbesering opgedoen het.

Gelant moes ’n uitputtende rehabilitasietydperk van vyf maande deurloop, wat vir hom net 13 weke gelaat het om fiks te raak vir die Twee Oseane-marathon. Hierdie personeellid van Mense en Kultuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU), wat van Pacaltsdorp kom, het dit egter reggekry en tweede geëindig ná die Zimbabwiër Moses Tarakinyu, wat in ’n tyd van 1:03:31 klaargemaak het. Gelant het slegs 1,55 sekondes later die wenstreep oorgesteek. Vir ’n wedloop van 21,1 km is dit ongelooflik en hartverskeurend naby.

“Ek is baie gelukkig met die wedloop, veral ná die besering wat ek gehad het. Dit was ’n moeilike pad om weer fiks te raak, en ek voel dat ek weer besig is om my beste vorm te bereik. Ek wil almal bedank wat my gedurende daardie tyd ondersteun het. Ek sou dit nie sonder julle kon doen nie,” sê Gelant.

Met ’n propvol atletiekkalender namate normaliteit weer na ons wêreld terugkeer, is dit veilig om te sê dat talle podiums op die 35-jarige met die onwrikbare houding wag. Sy teenstanders kan maar gerus oor hulle skouers begin loer.

 

 

Submitted on Mon, 04/25/2022 - 14:10