Elektrisiteitstariefverhoging sal noodgedwonge die koste van sake-ondernemings laat styg

Hoewel dit steeds vir sakeondernemings en verbruikers ’n pynlike saak is, is die besluit deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) om ’n veel laer verhoging van 12,7% in Ekskom-tariewe toe te laat, in plaas van die 36% wat Eskom wou hê, ’n belangrike uitkoms.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê Nersa het erkenning verleen aan die kritieke insette wat hulle verlede jaar ontvang het vanuit uitgebreide openbare verhore oor Eskom se oorspronklike massiewe aansoek en die potensiële sosio-ekonomiese impak wat dit kon hê.

“Die gewone kosteplusbenadering tot Eskom se finansies is dus nou noemenswaardig versag. Selfs met ’n 12,7%-tariefverhoging deur Eskom moet daar egter voorsiening gemaak word vir die bykomende toeslae wat gewoonlik op sulke tariefverhogings volg. Die elektrisiteitskoste van besighede sal dus onvermydelik later hierdie jaar styg.”

Volgens prof Parsons sal hoër kragtariewe nietemin ook die soeke na alternatiewe energie-opsies aanmoedig en afhanklikheid van Eskom verder verminder. “Die Nersa-besluit los nie die veel groter uitdaging op van hoe Eskom op die langer termyn behoorlik gefinansier gaan word, en hoe spoedig sy huidige herstrukturering meer lewensvatbare uitkomste vir hierdie probleemgeteisterde onderneming in staatsbesit sal fasiliteer nie.”

Submitted on Fri, 01/31/2025 - 12:23