Ekonomiese groei is ’n welkome herstel

Suid-Afrika se ekonomiese groei van 1,2% in die vierde kwartaal van 2021 het ’n oorkoepelende positiewe groei van die bruto binnelandse produk (BBP-groei) van 4,9% in 2021 opgelewer, wat ná die rampspoedige -6,4%-groei in 2020’n welkome herstel van die ekonomie is. 

Volgens prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), het die helfte van die sektore in die ekonomie, veral mynbou en landbou, ’n positiewe bydrae tot die herstel van die ekonomie in die laaste kwartaal van die jaar gelewer. 

“Hoewel die ekonomie nog nie terug is op voorpandemiese vlakke nie, maak die 4,9%-groei in 2021 nietemin op vir ’n groot ekonomiese veld wat verloor is en dra by tot ’n verdere normalisering van ekonomiese en sake-aktiwiteite in Suid-Afrika.” 

Prof Parsons sê die grootste gedeelte van die momentum wat die ekonomiese herstel dryf, is nou ongelukkig iets van die verlede. Hy verduidelik dat die voorspellings vir BBP-groei oor die volgende paar jaar nou matig bly – met die onlangse Begroting wat verwag dat groei’n gemiddelde van slegs 1,8% oor die volgende drie jaar sal behaal.

“Suid-Afrika sal baie beter moet doen as werkloosheid in die jare wat voorlê verminder en fiskale volhoubaarheid verseker moet word.  Om tasbare vordering op die indiensnemings- en belastinginkomstefronte te maak, moet Suid-Afrika dus progressief vir ’n 4%- tot 5%-BBP-groei mik en deur groter samewerking met die privaat sektor doen wat dringend nodig is om dit te verkry.”

Volgens prof Parsons moet Suid-Afrika nou op nuwe en bygewerkte ekonomiese faktore staatmaak, nie op ’n “eenmalige” herstel nie, indien die aantal werksgeleenthede teen enige gegewe groeikoers gemaksimaliseer moet word.  

“Dit bly dus noodsaaklik om nou die Suid-Afrikaanse ekonomie op ’n hoër groeitrajek te plaas deur dringend te kapitaliseer op die positiewe beloftes wat in die staatsrede (SONA) en die Begroting gemaak is, sodat die privaat sektor op ’n groter skaal gemobiliseer word en om die nodige klimaat te skep om dit te kan doen.”

Submitted on Wed, 03/09/2022 - 10:35