Eagles trap Shimlas

Die doeltreffendheid van die styl van rugby wat die Shimlas tot dusver gespeel het, is uit alle oorde geloof. Gesaghebbendes het hulle ondernemende speelstyl geprys, asook hulle bereidwilligheid om met die bal te hardloop.  Hulle verlies teen Wits het ’n paar krake in hulle indrukwekkende wenmondering uitgewys, en toe, op Maandag 14 Maart in Bloemfontein het die NWU Eagles ’n storm veroorsaak met ’n 32–22 oorwinning oor die manne van die Universiteit van die Vrystaat.

Die Eagles het ’n uitbundige begin gehad en was 20–0 voor nadat buitesenter Tino Swanepoel twee keer gaan druk het.  Nivan Petersen het twee strafdoele en twee doelskoppe oorgeklits.

’n Rooi- en ’n geelkaart het nie baie gehelp om dit vir die Shimlas makliker te maak teen die verwoestende Eagles nie, en toe Naiden Jaarts met minder as tien minute oor gedruk het, was die wedstryd in die sakkie.   

Skrumskakel Riaan Genis is as FNB se Player that Rocks aangewys.

Ongelukkig is die Eagles steeds in die sewende posisie op die algehele punteleer, hoewel slegs Ikeys en Maties meer wedstryde gewen het. Die twee voorlopers op die punteleer het vier van hulle vyf wedstryde gewen, terwyl die Eagles nou twee gewen het.

Volgende is Maties by die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Sal die Eagles in hulle opmars hulle derde oorwinning kan beklink? Die afskop is om 19:00 op 21 Maart 2022.

....

Onstuitbaar! Die NWU Arende se Ruben du Plessis storm voort teen Shimlas. Foto: Asem Engage/Hannes Naude

Bertie Jacobs

Submitted on Wed, 03/16/2022 - 11:20